Vrydag 25 Mei 2018

Jesus is die beste voorbeeld van vriendskap

Jesus is die beste voorbeeld van vriendskap

Johannes 15:13

Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe.

Ons sien dit altyd in die flieks – een persoon spring voor hulle vriend in net soos wat die koeël hulle sou tref. Dit word selfs in die media voorgehou as die beste manier om jou liefde vir iemand te wys: om jouself op te offer vir hulle lewe.

In die teks is Jesus besig om vir Sy dissipels te leer dat hulle mekaar moet liefhê – net soos wat Hy vir hulle liefhet. Hulle het dit nog nie geweet nie, maar Jesus sou Sy lewe vir hulle en vir ons op die ou end opgee. Jesus se dood aan die kruis beteken dat ons in die vryheid van God kan lewe.

Is dit vir ons moontlik om ons vriende so baie lief te hê? Ek dink nie ons almal sal daardie vraag eerlik met ‘ja’ kan antwoord nie. Jesus bewys Sy liefde vir ons sonder om enigiets terug te verwag. Kom ons leer van Sy liefde en wys dit aan die mense om ons – so word ons net beter vriende met ander.

Jesus is die beste voorbeeld van vriendskap.

Gebed: Here, dankie dat U vir my so lief is dat U Jesus gestuur het om met my U liefde te deel. Help my asseblief om die liefde wat U eerste aan my bewys het ook aan ander te wys en so ook ʼn goeie vriend vir ander te wees… Amen.

Uitdaging: Lees oor die naweek die hele deeltjie waar Jesus met sy dissipels praat oor liefde – Johannes 15:12-17

Woensdag 23 Mei 2018

Goeie vriendskappe is beter as populariteit

Goeie vriendskappe is beter as populariteit

Spreuke 18:24

Daar is party vriende wat net praat
maar wat niks help nie,
maar ’n vriend kan vir jou meer lief wees as ’n broer.

Hierdie week se padkos stukkies gaan oor vriendskap. Hoeveel vriende is daar in jou lewe wat jy regtig ‘n nabye vriend kan noem? Ons almal het verskillende vriendskappe, maar gaan net na jou sosiale media en jy kan verlore raak in ‘n see van gesigte wat jy nie regtig so goed ken nie.

Vandag se vers sê dat terwyl ons dalk baie vriende mag hê, is daar wel vriende daar buite wat nie die beste vir jou in gedagte het nie. Hulle sê dalk baie dat hulle hou van wie jy is, maar partykeer leef hulle dit nie uit in die manier wat hulle jou hanteer nie.

Terwyl daar baie vriendskappe is wat oppervlakkig is, is daar ook vriendskappe wat diep wortels het, die skrywer van hierdie sê-ding uit Spreuke vertel vir ons dat diep en betekenisvolle vriendskappe heelwat meer werd is as om populêr te wees en net oppervlakkige vriendskappe te bou.

Goeie vriendskappe is beter as populariteit.

Gebed: Here, dankie dat U vir my vriende in my lewe gee wat net so naby voel soos familie. Here help my asseblief om nie net honderde vriende te hê nie, maar ook vriendskappe wat goed is en gewortel is in U liefde. Dankie dat U ook vir my ʼn vriend noem… Amen.

Uitdaging: Maak die week ʼn punt daarvan om vir jou nabye vriende te wys wat hulle vir jou beteken – een van die maklikste maniere is om net goeie tyd saam met hulle te spandeer – en dit kos jou niks nie.

Ware vriende help mekaar op

Ware vriende help mekaar op

Prediker 4:9-10

Dit is beter wanneer twee mense saam is, dit is beter as om alleen te wees. Wanneer twee mense saam hard werk, dan kan hulle ’n groter beloning kry, want as een van hulle val, dan kan die ander een hom optel. Maar dit sal sleg gaan met iemand wanneer hy val en daar is niemand om hom op te tel nie.

Wie van julle het al deur ‘n moeilike tyd gegaan waardeur ‘n vriend jou gehelp het? Ons lewens is vol van tye wat dinge hier en daar skeefloop, maar ons hoef nie hierdie tye alleen aan te durf nie. Van die betekenisvolste tye in ons lewens is wanneer ons vriende uithelp en hulle ons uithelp.

Ons word in hierdie vers vertel dat goeie vriendskappe dinge is wat ons moet najaag. Dis soveel beter om te kan afpak by ʼn goeie vriend as om vriende te hê wat jou ignoreer sodra jy jou issues met hulle deel. Ons is gemaak om nie alleen te staan nie, maar om mekaar op te bou.

Ons moet dus konstant bereid wees om ware vriendskappe te kweek: vriendskappe wat beteken dat ons nooit alleen hoef te staan nie. Wanneer ons sukkel, help ons ons vriende en wanneer hulle sukkel, het ons geleentheid om Jesus se liefde te wys om hulle weer op te help.

Ware vriende help mekaar op.

Gebed: Here, dankie dat U altyd daar is vir my. Ek glo dat U soveel liefde aan my gegee het en daarom kan ek die liefde deel met ander. Wys vir my asseblief waar ek my vriende kan help en maak asseblief my goeie vriendskappe sterker sodat dit U liefde uitstraal aan ander… Amen.

Uitdaging: Praat met jou nabye vriende die week. Hoor by hulle of daar iets is waarmee jy hulle kan bystaan, of vra hulle om jou op te help as jy seergekry het.

Passie om te vertel, al hang ’n swaard

Passie om te vertel, al hang ’n swaard

Ek sien op Facebook ’n film van hoe al die dissipels dood is.

Petrus was onderstebo gekruisig.

Andrias en Filippus is ook gekruisig.

Tomas en Matteus is met ’n spies doodgesteek.

Lukas is gehang.

Markus is dood nadat hy deur perde deur die strate gesleep is.

Johannes is in olie gekook, maar het dit oorleef. Hy is die enigste dissipel wat in vrede gesterf het.

Jakobus is van die tempelmuur gegooi, maar het dit oorleef. Hy is egter met knuppels doodgeslaan.

Bartolomeus is gemartel en tot die dood gegesel.

Mattias is óf gestenig, gekruisig óf onthoof.

Paulus se kop is op ’n skinkbord vir Koning Nero se dogter gebring.

Om te sê dit was rof in daardie tye, is ligtelik gestel! Almal is gemartel. Almal behalwe Johannes het dit oorleef. Terwyl Andreas aan ’n kruis gehang het, het hy nog vir twee dae aangehou om die Evangelie te bring. Elkeen was bereid om alles, selfs hulle lewe, vir hulle roeping op te offer.

Hierdie passie kom keer op keer in Paulus se woorde na vore: 10In dieselfde asem bid ek nog die hele tyd baie ernstig dat God dit vir my moontlik sal maak om weer daar by julle uit te kom. Ek wil julle baie graag weer sien. Ek moet julle geloof nog sterker maak sodat daar niks in julle geestelike toerusting sal ontbreek nie.

Paulus weet dit is nie veilig daar buite nie. Hy sit mos in die tronk juis omdat hy nie wil stilbly nie, maar steeds smag hy daarna om weer by sy jong Christen-broers en -susters uit te kom. Hy móét na hulle toe gaan, want hy wil hulle nóg meer toerus sodat hulle nie deur die vyand van die pad gelok kan word nie. Niks sal hom keer nie. Nie eers die swaard wat die heeltyd langs die pad bo sy kop bly hang nie.

Watter groot voorbeeld is hy nie vir ons nie. Kom ons wees eerlik: Min van ons stap heeltemal in dié manne se skoene. Min van ons het ’n passie vir ander se geloof of selfs die feit dat hulle ’n gebrek aan geloof het. Dit skeel ons soms min hoe ’n ander man glo of nie glo nie…

Dit is vir ons so maklik om in ons karre te klim en te ry na iemand wat ons nodig het. Ag, ons hoef nie eens moeite te maak nie. Eintlik net daar waar ons elke dag met ander in aanraking kom, is daar die een geleentheid na die ander om iemand by die hand te neem en te help om hulle geloof te versterk.

Ek wonder wat sou gebeur het as die twaalf ouens te bang was om die Evangelie uit te dra. Wat sou gebeur het as hulle nie bereid was om vir hulle roeping te sterf nie? Sou God se Koninkryk vandag net so groot gewees het sodat ons ook daarin kon deel?

God, gee ons krag en moed om nie skaam te wees vir die Evangelie nie. Mag ons nageslag die vrugte van ons getuienis pluk.

Teks

1 Tessalonisense 3:6-11

Om oor na te dink

Hoe groot is jou passie?

Is jy bereid om alles op te gee?

Al kos dit jou lewe?

Gebed

Vader, gee vir ons die moed om mekaar te bemoedig en te help om geestelik sterk te word. Help ons om waardig te wees vir dit waartoe U ons geroep het. Amen.

Jou geloof versterk ook ander

Jou geloof versterk ook ander

Die lewe is nie maanskyn en rose nie. Dit ervaar ons almal amper elke dag aan ons lywe.

Waaraan hou die pa en ma vas terwyl hulle vier maande oue baba net nie meer daar in sy wiegie lê nie? Hulle huis het inmekaar geval.

Ek het lank daar aan die kombuistafel by hulle gesit en al die vrae gehoor. Die een na die ander het sommer so uitgerol sonder dat daar gedink is.

“Hoekom, God? Hoekom hy en nie my Ma wat al amper ’n dekade Alzheimer het en my glad nie meer herken nie? Hoekom, nadat ons opgegee het om nog ’n baba te kry, kom gee U en dan neem U weer 4 maande later? Het ek iets verkeerd gedoen? Straf U? Kon U nie eerder maar vir my kom haal het nie?”

Ja, Here! O, die pyn!

Met geen rus nie.

En ek besef dat ek geen antwoorde het op al hulle vrae nie. Ek besef dat niks wat enige iemand kan sê, hulle pyn gaan minder maak nie.

Al wat oorbly is geloof in God. Dit is al waaraan ’n mens kan bly vasklou. Niks anders nie. Selfs deur die nie verstaan van God se wandel en weë, is die geloof in die onverstaanbare God al waaraan ons kan vashou. Daarom sê ek, nee, skréé ek dit uit: Here, ek verstaan niks, maar ek hou vas aan my geloof in U. Here, ek sien nie nou ’n toekoms nie, maar ek hou vas aan my geloof dat U op een of ander manier rus, vrede, vertroosting en berusting gaan bring.

Dit is wat die jong Christene gedoen het in Tessalonika. Die mense rondom hulle het hulle gas gegee. Hulle lewe was in gevaar. Hulle is uit hulle families geskop. Dit het vir hulle ook gevoel asof hierdie nuwe Jesus se stories nie waar is nie, want kyk waar sit hulle nou.

Dit is nie maklik nie en eintlik was hulle nou baie slegter af as voorheen. Tog, op een of ander manier, bly hulle vasklou aan hulle geloof in God. Dit dra hulle deur elke dag se geswoeg en gesleep. Vrede en vreugde sal weer kom, maar vir nou glo hulle eers net aan God.

So hoor Paulus via Timoteus: 6Maar toe Timoteus daar van julle af terugkom, het hy goeie nuus vir my gehad. Hy het kom vertel dat julle vertroue in die Here sterk is en dat julle vir mekaar lief is.

Miskien moet ek en jy dit ook probeer as ons eers weer die grondpad geslaan het. Glo in God. Hou vas aan Sy beloftes.

En dan, op ’n manier, gebruik die Heilige Gees hierdie vasklou van ons om in ander mense se lewens ’n verskil te maak.

Weet jy dat God vir jou, ja, vir jou tussen al die seerkry wil gebruik om iets vir ander te beteken? Selfs daar waar jy swaarkry, daar waar jy net aan jou geloof in God vashou, selfs dit kan Hy gebruik om met ander mense te praat en só ’n verskil in hulle lewe maak.

Dit maak dalk nie nou vir jou sin nie, ek weet.

Dit is wat met Paulus gebeur het. Ons weet dat Paulus verseker swaar gekry het en dalk was hy juis op daardie oomblik alweer in die tronk. Hoor die effek wat hulle op sy lewe het: 7Tussen al die vervolging en swaarkry deur wat ek moet verduur, het die nuus dat julle steeds glo my sommer baie moed gegee. 8Nou leef ek weer met ’n glimlag omdat julle steeds op die Here se pad stap. 9Hoe kan ek ooit vir God genoeg dankie sê vir julle almal?

Watter effek het jou eie onwrikbare geloof in God op ander mense?

Ek wonder maar net.

Teks

1 Tessalonisense 3:6-11

 

Om oor na te dink

Waaraan hou jy vas?

Hoe lyk jou geloof?

Hoe lyk ander as gevolg van jou geloof?

Gebed

Onse Vader, die dinge maak nie altyd vir my sin nie. Ek verstaan nie die pad waarop ek moet loop nie. Eintlik is ek nou moeg vir swaarkry. Tog weet ek dat ek my hand in U hand moet sit en dat U my sal deurhelp. Amen.

dapper muis

dapper muis

Ek is ʼn dapper muis
 
Ons almal ken die storie van die dapper muis. Met bravade verkondig hy sy gewaande dapperheid totdat hy met die geringste gevaar gekonfronteer word. Skielik is die bravade iets van die verlede behalwe vir die goed waarmee hy nog nie gekonfronteer is nie.
Ons ken ook die kinderrympie “allenig moet ek bed toe gaan”. Die groot verrassing is dat die gewaande bedreiging geen gevaar inhou nie (my eie jas aan die kapstok).
 
Daar is soveel perspektiewe op vrees.
Enersyds se Job wat hy gevrees het, het ʼn werklikheid geword. JOB 3:25
Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.
Mens kan aan jou vrese soveel aandag skenk dat dit later in jou lewe begin manifesteer.
 
Aan die anderkant se mense niks van wat ek gevrees het het toe gebeur nie. Dit was energie wat vermors is op denkbeeldige gevare. Drogbeelde sonder enige inherente gevaar (soos my eie jas aan die kapstok)
 
Waarvoor is jy bang?
 
Iemand sê daar is 366 tekste in die Bybel wat ons maan om nie bang te wees nie. Een vir elke dag en een ekstra vir die skrikkeljaar. Ek het dit nie self getel nie maar dit is inderdaad so..die Bybel is vol van oproepe om nie te vrees nie.
 
Josua op die vooraand van die inbesitname van die beloofde land hoor duidelik, “moenie bang wees nie”. JOSUA 1:9
Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.
 
Aan die anderkant is dit juis die vrees van die tien verspieders ( teenoor Josua en Kaleb se onwrikbare vertroue dat God by magte is om te doen wat Hy belowe het ) wat die volk in hul spore laat omdraai. Veertig verspilde jare, ʼn hele generasie moes uitsterf voordat God sy belofte kon uitvoer.
 
Watter rol speel vrees in jou lewe?
Staan jy bang op en gaan slaap jy bang?
Beskryf die woordjie bang jou lewenshouding?
 
Toemaar, dis van die meeste mense waar.
Ons verbloem ons vrese agter ʼn glimlag en ons maak asof ons in beheer is maar binne woel dit.
 
Die Bybel verseker ons van die teenwoordigheid van ʼn Almagtige en alomteenwoordige God vir Wie niks te moeilik is nie. Hy bemagtig ons met die Heilige Gees sodat ons uitdagings waarvan daar baie is die hoof kan bied. Sy Woord is verbysterend bemagtigend ..lees en dink daaroor na..
Jes. 41:13 13     
Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.
 
Wow!
Wat meer het ons nodig?
 
Dis asof die Here sê “as Ek dan met jou is ( Rom.8:31 God is vir ons) moet dit nie eers oorweeg om bang te wees nie” (Don`t you dare being afraid)
Dis hoe ek hierdie jaar wil lewe. Sonder vrees.
En jy?
 
Here dankie dat U alle vrees oorwin het. Die graf is leeg.
Amen


Dinsdag 22 Mei 2018

BETEKENIS IS BELANGRIKER AS PLESIER


Ek het grootgeword met die indruk dat die kerk teen alles is wat lekker is. Die kerk is téén sonde (jip, sonde kan lekker wees!), téén allerhande soorte plesier, téén rook, téén seks en nog teen menige ander dergelike dinge. As kind was ek so sondeverskrik dat ek selfs vandag nie maklik die term sonde gebruik nie. Maar alhoewel die kerk in die verlede ‘n relatief ongesonde klem op sulke dinge gelê het is dit nie asof hy hierdie lewenshouding uit die lig uit gegryp het nie. Die Bybel maak inderdaad ernstige uitsprake oor sonde: Indien jou regterhand jou laat struikel (sonde doen) moet jy hom afkap; jy mag nie steel nie; jy mag nie wraak neem nie; jy mag nie sondig wanneer jy kwaad word nie; jy mag nie wraaksugtig of geldgierig wees nie. So kan ons aangaan.

‘n Skeptiese (nie-gelowige) vriend het my eenkeer gevra:

Waarom het die Bybel hierdie beheptheid met sonde en waarom is ons so teen allerhande plesiertjies?

Wel, dis ‘n goeie vraag en ek dink deel van die antwoord kry ons in Jeremia waar die profeet vir Israel oor die vingers raps omdat hulle spiritualiteit gedryf was teen blote kortstondige impulse en begeertes. God sê die volgende (2:23-24):

Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie, ek het nie die Baäls gedien nie”? Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal. Besef tog wat jy gedoen het! Jy was soos ‘n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop, soos ‘n wildedonkie wat tuis is in die woestyn. Jy was soos ‘n bronstige kameelkoei wat die wind opsnuif, wat onkeerbaar is in haar hittigheid. Die bulle wat haar soek, hoef hulle nie moeg te hardloop agter haar aan nie; wanneer sy wil paar, kry hulle haar maklik.”

Dis interessant hoe dat die Here dikwels sonde – veral sondes wat aangespoor word deur blote impulse en begeertes – vergelyk met die instinkte van diere. Diere het geen werklike keuse nie. Hulle is uitgelewer aan hulle primitiewe instinkte. Hulle moet optree in lyn met hulle oorlewingsdrange en primitiewe dryfvere, soos ‘n kameelkoei. Hulle kan slegs optree in lyn met die veg, vlug en vries funksies van hulle basiese elke-dag-dier-wees.

Maar hier is juis – myns insiens – een van die belangrikste punte van die Bybel oor sonde: Dis nie dat God teen allerhande plesiertjies is as sulks nie. Inteendeel, God is die Gewer van plesier. God het egter ‘n hoër verwagting van mense as van diere. Hy het sy beeld in die mens ingeskep sodat laasgenoemde baie meer kan vermag as ons dierefamilie. Die mens kan sy vervulling vind deur hoër betekenis te heg aan sekere dinge en meer te kan sin vind in die lewe as diere. Diere leef slegs binne die sfeer van die materiële wêreld, en hulle beperkte diereverbeeldings kan slegs dink en reageer binne-in die beperkinge van die sigbare wêreld. Mense het egter die gawe van verbeelding wat op ‘n hoër vlak van abstraksie kan dink. Ons beskik oor ‘n hoër orde van denke waarmee ons die dieper betekenis van die lewe en dinge kan beoordeel. Die mens het die vermoë om sin te vind in sekere handelinge en aksies wat uiteindelik ons, sowel as ander mense se lewenskwaliteit en lewensgeluk kan verhoog. Die mens het ‘n unieke kapasiteit om in ooreenstemming op te tree met dieper waardes as diere. Ons kan ‘n beter, meer ideale wêreld en beter lewens bedink en self streef daarna om beter mense te word. Mense vind gewoonlik dieper betekenis in byvoorbeeld die ontwikkeling van hulle eie karakter, die smee van sinvolle verhoudings of die skep van ‘n beter wêreld. Ons weet wanneer ons nie ons volle potensiaal bereik nie en dit kan ons ongelukkig stem. Ons weet ons kan beter wees want ons kan meer ideale moontlikhede optower in ons verbeeldingswêreld.

Wanneer ons dus bloot reageer op- en toegee tot die impuls, drang of begeerte van die oomblik sonder om intelligent te dink oor wat ons doen, tree ons nie op volgens ons menslike potensiaal nie. Ons gly dan terug na ‘n laer orde denke en dierlike instinkte. So iets sou bloot tragies wees. As Jesus-volgelinge word ons tot meer geroep as dit.

Ons word veel eerder deur God uitgenooi om te streef na ‘n lewensdroom groter as onsself. Wanneer ons Jesus volg dan streef ons na die koms van sy koninkryk. Ons streef dus intensioneel daarna om vir God en mense liewer te word en die skepping heel te maak, nie bloot om elke korttermynbegeerte onmiddellik te bevredig nie. Daarom sê ons soms tydelik “nee” vir sekere kortstondige plesiertjies. Ons doen dit nie omdat plesier noodwendig verkeerd is nie, maar omdat ons kies om betekenisvol te leef. Ons doen dit omdat ons Jesus ontdek het en omdat Hy betekenis toeken aan ons lewens. ‘n Betekenisvolle lewe is nie afhanklik van die onmiddellike vervulling van momentele impulse en begeertes nie. Ons is nie kameelkoeie nie. Ons is mense. Wanneer ons dus wel sekere Godgegewe plesiertjies geniet, doen ons dit in diens van ‘n betekenisvolle lewe. Wanneer ons ‘n bord kos sien, verslind en verorber ons nie soos ‘n dier alles wat voorkom asof ons God nie vertrou vir môre nie. Ons kan sinvol oordeel om so te eet dat ons gesond kan wees en lank kan leef saam met ons geliefdes en ook genoeg kan oor los vir ander.

Jesus moes self ook veg teen die versoeking om sy kortstondige honger te stil deur klippe in brood te verander. Ons vergeet soms dat Hy die duiwel geantwoord het met die woorde (Matteus 4:4):

‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...