Jou geloof versterk ook ander
Die lewe is nie maanskyn en rose nie. Dit ervaar ons almal amper elke dag aan ons lywe.
Waaraan hou die pa en ma vas terwyl hulle vier maande oue baba net nie meer daar in sy wiegie lê nie? Hulle huis het inmekaar geval.
Ek het lank daar aan die kombuistafel by hulle gesit en al die vrae gehoor. Die een na die ander het sommer so uitgerol sonder dat daar gedink is.
“Hoekom, God? Hoekom hy en nie my Ma wat al amper ’n dekade Alzheimer het en my glad nie meer herken nie? Hoekom, nadat ons opgegee het om nog ’n baba te kry, kom gee U en dan neem U weer 4 maande later? Het ek iets verkeerd gedoen? Straf U? Kon U nie eerder maar vir my kom haal het nie?”
Ja, Here! O, die pyn!
Met geen rus nie.
En ek besef dat ek geen antwoorde het op al hulle vrae nie. Ek besef dat niks wat enige iemand kan sê, hulle pyn gaan minder maak nie.
Al wat oorbly is geloof in God. Dit is al waaraan ’n mens kan bly vasklou. Niks anders nie. Selfs deur die nie verstaan van God se wandel en weë, is die geloof in die onverstaanbare God al waaraan ons kan vashou. Daarom sê ek, nee, skréé ek dit uit: Here, ek verstaan niks, maar ek hou vas aan my geloof in U. Here, ek sien nie nou ’n toekoms nie, maar ek hou vas aan my geloof dat U op een of ander manier rus, vrede, vertroosting en berusting gaan bring.
Dit is wat die jong Christene gedoen het in Tessalonika. Die mense rondom hulle het hulle gas gegee. Hulle lewe was in gevaar. Hulle is uit hulle families geskop. Dit het vir hulle ook gevoel asof hierdie nuwe Jesus se stories nie waar is nie, want kyk waar sit hulle nou.
Dit is nie maklik nie en eintlik was hulle nou baie slegter af as voorheen. Tog, op een of ander manier, bly hulle vasklou aan hulle geloof in God. Dit dra hulle deur elke dag se geswoeg en gesleep. Vrede en vreugde sal weer kom, maar vir nou glo hulle eers net aan God.
So hoor Paulus via Timoteus: 6Maar toe Timoteus daar van julle af terugkom, het hy goeie nuus vir my gehad. Hy het kom vertel dat julle vertroue in die Here sterk is en dat julle vir mekaar lief is.
Miskien moet ek en jy dit ook probeer as ons eers weer die grondpad geslaan het. Glo in God. Hou vas aan Sy beloftes.
En dan, op ’n manier, gebruik die Heilige Gees hierdie vasklou van ons om in ander mense se lewens ’n verskil te maak.
Weet jy dat God vir jou, ja, vir jou tussen al die seerkry wil gebruik om iets vir ander te beteken? Selfs daar waar jy swaarkry, daar waar jy net aan jou geloof in God vashou, selfs dit kan Hy gebruik om met ander mense te praat en só ’n verskil in hulle lewe maak.
Dit maak dalk nie nou vir jou sin nie, ek weet.
Dit is wat met Paulus gebeur het. Ons weet dat Paulus verseker swaar gekry het en dalk was hy juis op daardie oomblik alweer in die tronk. Hoor die effek wat hulle op sy lewe het: 7Tussen al die vervolging en swaarkry deur wat ek moet verduur, het die nuus dat julle steeds glo my sommer baie moed gegee. 8Nou leef ek weer met ’n glimlag omdat julle steeds op die Here se pad stap. 9Hoe kan ek ooit vir God genoeg dankie sê vir julle almal?
Watter effek het jou eie onwrikbare geloof in God op ander mense?
Ek wonder maar net.
Teks
1 Tessalonisense 3:6-11
Om oor na te dink
Waaraan hou jy vas?
Hoe lyk jou geloof?
Hoe lyk ander as gevolg van jou geloof?
Gebed
Onse Vader, die dinge maak nie altyd vir my sin nie. Ek verstaan nie die pad waarop ek moet loop nie. Eintlik is ek nou moeg vir swaarkry. Tog weet ek dat ek my hand in U hand moet sit en dat U my sal deurhelp. Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking