Ek het grootgeword met die indruk dat die kerk teen alles is wat lekker is. Die kerk is téén sonde (jip, sonde kan lekker wees!), téén allerhande soorte plesier, téén rook, téén seks en nog teen menige ander dergelike dinge. As kind was ek so sondeverskrik dat ek selfs vandag nie maklik die term sonde gebruik nie. Maar alhoewel die kerk in die verlede ‘n relatief ongesonde klem op sulke dinge gelê het is dit nie asof hy hierdie lewenshouding uit die lig uit gegryp het nie. Die Bybel maak inderdaad ernstige uitsprake oor sonde: Indien jou regterhand jou laat struikel (sonde doen) moet jy hom afkap; jy mag nie steel nie; jy mag nie wraak neem nie; jy mag nie sondig wanneer jy kwaad word nie; jy mag nie wraaksugtig of geldgierig wees nie. So kan ons aangaan.
‘n Skeptiese (nie-gelowige) vriend het my eenkeer gevra:
Waarom het die Bybel hierdie beheptheid met sonde en waarom is ons so teen allerhande plesiertjies?
Wel, dis ‘n goeie vraag en ek dink deel van die antwoord kry ons in Jeremia waar die profeet vir Israel oor die vingers raps omdat hulle spiritualiteit gedryf was teen blote kortstondige impulse en begeertes. God sê die volgende (2:23-24):
Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie, ek het nie die Baäls gedien nie”? Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal. Besef tog wat jy gedoen het! Jy was soos ‘n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop, soos ‘n wildedonkie wat tuis is in die woestyn. Jy was soos ‘n bronstige kameelkoei wat die wind opsnuif, wat onkeerbaar is in haar hittigheid. Die bulle wat haar soek, hoef hulle nie moeg te hardloop agter haar aan nie; wanneer sy wil paar, kry hulle haar maklik.”
Dis interessant hoe dat die Here dikwels sonde – veral sondes wat aangespoor word deur blote impulse en begeertes – vergelyk met die instinkte van diere. Diere het geen werklike keuse nie. Hulle is uitgelewer aan hulle primitiewe instinkte. Hulle moet optree in lyn met hulle oorlewingsdrange en primitiewe dryfvere, soos ‘n kameelkoei. Hulle kan slegs optree in lyn met die veg, vlug en vries funksies van hulle basiese elke-dag-dier-wees.
Maar hier is juis – myns insiens – een van die belangrikste punte van die Bybel oor sonde: Dis nie dat God teen allerhande plesiertjies is as sulks nie. Inteendeel, God is die Gewer van plesier. God het egter ‘n hoër verwagting van mense as van diere. Hy het sy beeld in die mens ingeskep sodat laasgenoemde baie meer kan vermag as ons dierefamilie. Die mens kan sy vervulling vind deur hoër betekenis te heg aan sekere dinge en meer te kan sin vind in die lewe as diere. Diere leef slegs binne die sfeer van die materiële wêreld, en hulle beperkte diereverbeeldings kan slegs dink en reageer binne-in die beperkinge van die sigbare wêreld. Mense het egter die gawe van verbeelding wat op ‘n hoër vlak van abstraksie kan dink. Ons beskik oor ‘n hoër orde van denke waarmee ons die dieper betekenis van die lewe en dinge kan beoordeel. Die mens het die vermoë om sin te vind in sekere handelinge en aksies wat uiteindelik ons, sowel as ander mense se lewenskwaliteit en lewensgeluk kan verhoog. Die mens het ‘n unieke kapasiteit om in ooreenstemming op te tree met dieper waardes as diere. Ons kan ‘n beter, meer ideale wêreld en beter lewens bedink en self streef daarna om beter mense te word. Mense vind gewoonlik dieper betekenis in byvoorbeeld die ontwikkeling van hulle eie karakter, die smee van sinvolle verhoudings of die skep van ‘n beter wêreld. Ons weet wanneer ons nie ons volle potensiaal bereik nie en dit kan ons ongelukkig stem. Ons weet ons kan beter wees want ons kan meer ideale moontlikhede optower in ons verbeeldingswêreld.
Wanneer ons dus bloot reageer op- en toegee tot die impuls, drang of begeerte van die oomblik sonder om intelligent te dink oor wat ons doen, tree ons nie op volgens ons menslike potensiaal nie. Ons gly dan terug na ‘n laer orde denke en dierlike instinkte. So iets sou bloot tragies wees. As Jesus-volgelinge word ons tot meer geroep as dit.
Ons word veel eerder deur God uitgenooi om te streef na ‘n lewensdroom groter as onsself. Wanneer ons Jesus volg dan streef ons na die koms van sy koninkryk. Ons streef dus intensioneel daarna om vir God en mense liewer te word en die skepping heel te maak, nie bloot om elke korttermynbegeerte onmiddellik te bevredig nie. Daarom sê ons soms tydelik “nee” vir sekere kortstondige plesiertjies. Ons doen dit nie omdat plesier noodwendig verkeerd is nie, maar omdat ons kies om betekenisvol te leef. Ons doen dit omdat ons Jesus ontdek het en omdat Hy betekenis toeken aan ons lewens. ‘n Betekenisvolle lewe is nie afhanklik van die onmiddellike vervulling van momentele impulse en begeertes nie. Ons is nie kameelkoeie nie. Ons is mense. Wanneer ons dus wel sekere Godgegewe plesiertjies geniet, doen ons dit in diens van ‘n betekenisvolle lewe. Wanneer ons ‘n bord kos sien, verslind en verorber ons nie soos ‘n dier alles wat voorkom asof ons God nie vertrou vir môre nie. Ons kan sinvol oordeel om so te eet dat ons gesond kan wees en lank kan leef saam met ons geliefdes en ook genoeg kan oor los vir ander.
Jesus moes self ook veg teen die versoeking om sy kortstondige honger te stil deur klippe in brood te verander. Ons vergeet soms dat Hy die duiwel geantwoord het met die woorde (Matteus 4:4):
‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking