Sondag 08 April 2018

MAAK JOU BYBELLEESBRIL BIETJIE SKOON

MAAK JOU BYBELLEESBRIL BIETJIE SKOON

Elkeen van ons lees die Bybel met ’n sekere bril op. Die bril is gevorm deur ons ouers, die kerk, die skool, vriende en selfs vreemdelinge. Daarom kan ek en jy na die dieselfde teks kyk en twee heeltemal verskillende prentjies sien.

Die bril wat ons dra om die woorde van die Bybel raak te sien, is nie altyd so skoon nie en dit kan ons prentjie van die waarheid vertroebel. Ons moet meer tyd met God se Woord deurbring sodat die Heilige Gees ons kan help om ons bril skoon te maak.

n Moet lees

'n Moet lees

Sowat twaalf jaar gelede het ek gestaan en kyk hoe my studente die klas instap vir hulle eerste lesing van Die Teologie Van Geloof. Daar het ek vir die eerste keer vir Tommy gesien.

Ek het my oë geknip om seker te maak ek sien reg: hy was besig om sy lang hare te kam – hare wat tot ses duim onderkant sy skouers gehang het. Dit was die eerste keer dat ek 'n seun gesien het met sulke lang hare - daardie mode het seker maar so pas die wêreld getref. Ek het natuurlik besef dat dit nie dít op jou kop is wat tel nie, maar wat binne is, maar ek was totaal onvoorbereid vir hierdie gesig.

In my gedagtes het ek vir Tommy geliasseer onder "V" vir Vreemd – baie Vreemd. Dit het so uitgedraai dat Tommy die "plaaslike ateïs" van my Teologie klas was. Hy het tot vervelens toe gekerm, smalende aanmerkings gemaak, en enige moontlikheid van 'n onvoorwaardelike, liefdevolle Vader/God in twyfel getrek. Ons het mekaar in relatiewe vrede verdra vir die eerste semester, maar ek moet byvoeg dat hy dikwels maar vir my 'n ernstige pyn in die agterbanke was.

Na die eindeksamen stap hy na my toe en vra smalend: "Prof, dink jy ek sal ooit vir God vind?"
Ek besluit om 'n bietjie skokterapie toe te pas: "Nee!", sê ek kortaf.
"O," reageer hy verbaas, "Ek het gedink u sal die produk wou verkoop"

Ek het hom kans gegee om so vyf treë uit die klas te loop voordat ek hom agterna geroep het: "Tommy, ek dink nie jy sal ooit vir God kry nie, maar ek is beslis seker dat Hy vir jou sal kry!"
Hy het vir 'n oomblik gehuiwer, en toe verdwyn hy uit my klas en uit my lewe. Ek was teleurgesteld dat hy nie my slim antwoord: "Hy sal jou kry!" gesnap het nie. Ek het ten minste gedínk dat dit 'n baie slim lyn was.....

Ek het later verneem dat Tommy graad gevang het, en ek was dankbaar. Maar toe kom die droewige nuus: Tommy het terminale kanker. Voordat ek hom kon opsoek het hy eendag na my toe gekom. Ek het geskrik toe hy in my kantoor instap - sy liggaam was uitgeteer, en die pragtige lang hare het uitgeval van die chemoterapie, maar sy oë het geblink en sy stemtoon was vir die eerste keer selfversekerd.

"Tommy, ek het so baie aan jou gedink. Ek hoor jy is siek", stamel ek dit uit.
"O ja, ek is baie siek. Ek het kanker in albei longe. Ek het nog net 'n paar weke oor."
" Kan jy daaroor praat, Tommy?" wou ek weet.
"Seker, wat wil jy weet?" antwoord hy.
"Hoe voel dit om maar net vier en twintig te wees, en sterwend te wees?"
"Aag, dit kon baie erger gewees het."
"Hoe so?"
"Wel, ek kon vyftig gewees het sonder enige lewenswaardes of ideale; vyftig, en al wat tel is drank, om vrouens te verlei, en om geld te maak; dat dit die enigste groot dinge in die lewe is."

Ek het deur my liassering stelsel begin soek onder die letter "V", daar waar ek vir Tommy onder "Vreemd" geliasseer het. Dit lyk vir my dat almal wat ek probeer van ontslae raak in my klassifikasie - vir hulle stuur God weer terug in my lewe in om my te kom opvoed.

"Waaroor ek u eintlik kom sien het", sê Tommy, "is oor iets wat u gesê het op die laaste dag wat ek in u klas was." (Hy het sowaar onthou!)
Ek het u gevra of ek ooit vir God sou vind, en u het 'Nee!' gesê – iets wat my werklik verbaas het. Maar toe sê u 'Maar Hy sal JOU vind.' Ek het baie hieroor nagedink, alhoewel my soeke na God nie juis baie ernstig was nie. (My slim antwoord! Hy het sowaar daaroor nagedink!)

"Maar toe kom die slegte nuus, toe die dokters 'n knop uit my lies moes verwyder, en hulle my moes meedeel dat dit kwaadaardig was. Dit is tóé wat ek eers werklik vir God begin soek het. Die kanker het deur my hele liggaam versprei, en ek het my vuiste rou geslaan teen die hemel se poorte ...... maar God het nie te voorskyn gekom nie. Om die waarheid te sê, het absoluut niks gebeur nie!

Professor, het u al ooit vir 'n lang tyd baie hard probeer om iets reg te kry sonder sukses? Sielkundig takel dit jou totaal af. Jy raak moedeloos, en uiteindelik gee jy moed op. Wel, een oggend het ek wakker geword, en in plaas daarvan dat ek weer 'n paar bakstene oor daardie hoë muur van die hemel probeer gooi het om God, wat dalk nie eers daar is nie, wakker te maak, het ek net opgehou probeer.

Ek het besluit dat ek rêrig nie meer omgee oor God of Sy ewige lewe of enigiets nie. Ek het besluit dat ek die tydjie wat ek oor het, baie beter kon gebruik deur iets werklik lonend te doen. Ek het baie gedink aan die dinge wat u in die klas vir ons gesê het, en een van die dinge wat ek kon onthou was dat u gesê het: 'Dit is tragies om deur die lewe te gaan sonder liefde. Maar dit is net so tragies om hierdie wêreld te verlaat sonder dat jy vir diegene wat jy liefhet vertel het dat jy hulle liefhet.'

En so begin ek toe met die moeilikste een - my pa. Hy het gesit en koerant lees toe ek by hom kom.
"Pa...."
"Ja, wat?" Hy het my geantwoord sonder om eers die koerant te laat sak.
"Ek wil graag met Pa praat."
"Nou toe, praat maar."
"Pa, dis baie belangrik."
Die koerant sak so effens. "Wat is dit?"
"Pa, ek is lief vir Pa. Ek wou maar net hê dat Pa dit moet weet."
(Tommy het breed geglimlag, en ek kon duidelik sien dat 'n warm gloed van vreugde uit hom straal.)

"Die koerant het uit my pa se hande geval. En toe doen hy twee dinge wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie: hy het gehuil en hy het my styf omhels. Ons het die hele nag deur gesels. Dit was 'n wonderlike gevoel om so naby aan my pa te wees, om sy trane te sien en sy omhelsing te voel, en om hom net te kon hoor sê dat hy my liefhet.

Met my ma en my kleinboet was dit makliker. Hulle het ook saam met my gehuil en my omhels, en ons het mooi dinge vir mekaar gesê. Ons het die dinge met mekaar gedeel wat ons al die jare vir mekaar geheim gehou het.

Daar was net een ding waaroor ek so bitter jammer was - dat dit so lank moes vat voordat ons hierdie dinge kon doen. En hier was ek nou, besig om oop te maak teenoor almal wat al die jare baie naby aan my was.

En eendag, toe ek weer sien, toe was God daar! Hy het nie na my toe gekom toe ek Hom gesmeek het nie. Ek dink ek was dalk soos 'n leeutemmer wat met my hoepel gestaan het en vir God probeer sê het: 'Spring! Spring! Ek gee U drie dae - drie weke......' Dit lyk my God doen dinge op Sy eie manier, en op Sy eie tyd. Maar die belangrike ding was dat God daar was! Hy het my gevind.

Ja, u was reg Prof., Hy het my gekry, selfs nadat ek opgehou het om vir Hom te soek."

My mond het oopgehang: "Tommy, jy het iets baie belangrik vir my vertel - iets wat baie, baie groter is as wat jy dalk sou besef. Wat jy eintlik sê, is dat die maklikste manier om God NIE te vind nie, is om Hom jou persoonlike besitting te probeer maak - 'n soort-van probleem oplosser of 'n kits-troos wanneer jy in die nood is.
Dit is beter om eerder net jou hart oop te maak vir liefde. Jy weet, Paulus het gesê dat God liefde is, en dat as jy in liefde leef, dan leef jy met God, en God in jou.

Tom, kan ek jou 'n groot guns vra? Jy weet, die tyd toe jy in my klas was, was jy vir my 'n groot pyn. Maar nou kan jy opmaak vir alles, as jy sou instem om na my Teologie-klas toe te kom en vir my studente te kom vertel wat jy vanoggend vir my vertel het.
Hoe lyk dit? Jy weet, as ek dit vir hulle moet vertel sou dit nie naasteby dieselfde effek hê nie."

"Ooooo ..... ek weet nie so mooi nie - ek was gereed om vanoggend met u te kom praat ......... maar vir die klas - daarvoor sien ek nie so mooi kans nie."
"Gaan dink maar daaroor, en as jy gereed is laat jy my weet." 'n Paar dae later skakel Tommy my, hy was gereed om sy verhaal met die klas te kom deel, en hy wou dit doen vir God en vir my. Ek het 'n afspraak met hom gemaak, maar hy kon daardie afspraak nooit nakom nie, want daar was 'n ander, baie belangriker afspraak wat hy moes nakom - baie belangriker as ek of die klas.

Inderwaarheid was sy lewe nie be-eindig deur sy dood nie - dit het net verander. Hy het die reuse stap geneem van geloof na werklikheid. Hy het 'n nuwe lewe gekry, baie mooier as wat ek en jy ooit van kan droom - baie heerliker as wat enigeen ooit gesien of ondervind het.

Voordat Tommy dood is het hy nog een laaste maal met my gepraat:
"Ek sal dit nie kan maak na die klas toe nie."
"Ek weet Tommy."
"Sal u asseblief vir hulle vertel? Sal u .... my verhaal aan die hele wêreld vertel ....... asseblief?"
"Ek sal, Tommy, ek sal my bes probeer."

Dus wil ek vanoggend vir jul, my liewe vriende, baie dankie sê dat jul die tyd afgestaan het om hierdie eenvoudige verhaaltjie van liefde te lees. En vir jou, Tommy, daar waar jy êrens in die hemel is - ek het vir hulle vertel Tommy, so goed as wat ek maar kon.

Hierdie is 'n ware verhaal - vertel dit gerus maar oor vir 'n vriend of twee.
Met groot dank.
John Powell, Professor

In die gestoei groei geloof

In die gestoei groei geloof

Kry jy soms ’n bietjie swaar? Worstel jy soms met dinge? Vlot alles nie altyd daar by die werk of besigheid nie? Hak jy en jou eggenoot soms oor die eenvoudigste ding? Voel jy dat jy nou vir eers genoeg geslaan is deur die lewe en net vir ’n slaggie wil asem skep? Is jy soms, of dalk nou, net mooi keelvol vir aanslag op aanslag?

Indien een, sommige of dalk almal van hulle waar is, het ek vir jou nuus: Welkom in die kring van die Christene! As jy jou verbind het om ’n lewe voluit saam met God te lewe, kan jy maar verseker weet dat jy nie altyd op die teerpad gaan ry nie. Selfs Paulus het meer gereeld op die grondpad geploeter as op die teerpad!

Paulus het uitmergelende werk vir God gedoen. Deur die werking van die Heilige Gees was hy tot op hede seker die persoon wat die evangelie die meeste deur die wêreld versprei en laat groei het. Hy kon darem sekerlik ’n sagter landing verwag het. Tog nie. 2… Ongelowige mense het ons daar verskriklik sleggesê en mishandel, maar dit het ons glad nie ondergekry nie. God het ons geloof sterk gemaak. Daarom was ons nie bang om na julle toe te gaan nie. Tog was dit nie so maklik om die goeie nuus in julle stad te preek nie. Die mense het ons baie swaar laat leef.

Nee, geen witbroodjies hier nie! Daarom, as jy die afgelope tyd, soos ek, die grondpad moes aandurf, moenie bekommerd wees nie. Jy bevind jou tussen ’n klomp goeie reisigers. Miskien moet dit ook gesê word dat as jy nog nie veel in jou lewe op die grondpad was nie, jy dalk effe bekommerd kan raak. Dalk is jy nie eintlik ’n bekommernis vir satan nie. Jammer as ek nou op die verkeerde knoppie gedruk het!

Ek dink wat Paulus reggekry het, was om bo-oor die omstandighede waarin hy hom bevind het, te kyk. Hy het geglo in die boodskap wat hy moes verkondig. Hy het geglo dat God Hom geroep het. Hy het geglo dat God met ’n krom stok soos hy ’n reguit hou kon slaan. Hy het vasgehou aan God en dit het sy geloof sterk gemaak. Maak nie saak hoe sleg die omstandighede nie, al was alles teen hom, het hy voort gebeur.

En dis presies wat ons moet doen. Ons moenie in die omstandighede om ons vaskyk nie. Ons moet met alles in ons glo in die verlossingsboodskap van God. Ons moet glo dat God ons geroep het, net daar waar ons ons nou bevind. Ons moet glo dat God met ’n klomp krom stokke soos ons ’n reguit hou kan slaan. Ons moet vashou aan God en weet dat dit ons geloof sal sterk maak. Ja, dit maak nie saak hoe sleg die omstandighede waarin ons nou is nie, al is baie teen ons, kan en sal ons voort beur en aan die anderkant uitkom. Lewendig.

Ek sê altyd ons moet die moontlike doen en die onmoontlike vir God los. En dit is juis ook hier van toepassing. Wat kan ek in die omstandighede doen waarin ek nou vasgevang sit? Dalk lyk alles vir jou onmoontlik, maar kyk bietjie om jou rond. Dalk is al die deure met slotte en grendels vas, maar is daar nie dalk erens ’n venster wat oopstaan nie?

Dalk moet jy raad gaan vra. Dalk lê die antwoord in jou vriend of kollega se kop. Bid vir God vir wysheid. Bid dat Hy jou die pad sal wys. Vra Hom om jou geloof sterk te maak. Eendag sal jy terugkyk en sien hoe God jou ook deur hierdie tyd gedra het. En jy sal al die eer aan Hom gee.

Teks

1 Tessalonisense 2:1-4

Om oor na te dink

Hoe lyk jou omstandighede?

Hoe sterk is jou geloof?

Vertrou jy vir God om jou te lei?

Gebed

Vader, ek het U leiding so nodig. Help my! Stap voor en wys my die pad. Maak my ore en oë oop. Wys my waar ek moet gaan. Amen.

*Hoe mooi is dit...*

*Hoe mooi is dit...*

*Hoe ouer mens word, hoe meer en meer besef jy dat 'n R70 horlosie presies dieselfde tyd aangee as 'n R700 een. Of jou huis sewentig vierkante meter is of sewehonderd vierkante meter, die eensaamheid en hartseer of vrede en geluk binne in bly dieselfde.*

*Hopelik sal ons almal eendag besef dat innerlike vreugde en vrede nie van fisiese besittings of rykdom afhang nie.*

*Of jy nou eerste klas of ekonomiese klas in 'n vliegtuig reis, as die vliegtuig val, val jy saam!*

*Daarom moet ons verstaan dat as ons ware vriende het, boeties en sussies saam met wie jy kan lag en huil en sing en bid en gesels oor alles en nog wat, dat dít eintlik WARE rykdom is...*

*Geniet die mense rondom jou wat God oor jou pad gebring het, want hul waarde is onmeetbaar en onskatbaar.*

*Vertel vir hulle hoe kosbaar hulle vir jou is en hoe belangrik hulle voetspore in jou lewe is.*

_*Wees ook dankbaar vir diegene wat jou wieletjies pap maak en jou geduld beproef, want jy leer waardevolle lewenslesse deur hulle.*_

*Vergewe en maak reg terwyl daar nog tyd is. Wees dankbaar dat jy 'n gesin en vriende en familie het. Hulle is net vir jou geleen, en eendag gaan jy hul werklike waarde besef as jy hulle leë stoel of plekkie raak sien...*

*Besef vandag opnuut dat sonder God in jou lewe, alles eintlik 'n sinnelose gejaag na wind is.*

*Ons hou ons besig met soveel dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, terwyl ons eintlik moet voorberei vir 'n ewigheidslewe saam in die hemel.*

*So kom ons koop die tyd uit, want tyd is die een ding wat ons nooit weer terug kan kry as dit eers verby is nie.*

*Deel hierdie boodskap met almal wat vir jou iets beteken het en nog steeds beteken!*🌷

*Net die volle waarheid*

*Net die volle waarheid*

Paulus vertel dat dit nie aldag rooskleurig was om die Woord van God aan die mense te bring nie. Party het op hulle gespoeg en dinge gesê wat ’n mens nie hier kan herhaal nie. Hulle is met stokke geslaan en selfs in die tronk gegooi en tog laat dit hulle nie van hulle roeping afwyk nie: *3Ons het aanhou preek en vir die mense gesê om te glo. Ons het nie ons prediking skielik afgewater of verdraai om onsself te pas nie. Ons het nie geheime agendas nie.*

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar dat dit nie altyd maklik is om vandag hier in ons wêreld vir God se dinge op te staan nie. Die omstandighede is soveel anders en die meeste van ons se lewens is nie naastenby in gevaar as ons vir God se dinge opstaan nie. En tog sukkel ons.

Ek gaan stap vir stap deur die Bybel en probeer by elke teksvers stilstaan en hoor wat God daaroor sê. Daar is lekker tekste wat ’n mens moed gee en ’n hand op jou skouer sit as die lewe daar buite die lewe in jou wil dooddruk. Maar daar is ook tekste wat nie so lekker is nie. Dis dié wat ’n mens so bietjie oor die vingers tik en met ’n skerp lig in die donker kolletjies van ’n mens se lewe lig en dan is die prentjie nie so mooi nie. Hierdie tekste is nie so gewild in ons geweste nie.

In ons bediening sien ek hoe die bemoedigende tekste heen en weer vlieg soos vriende dit vir mekaar aanstuur. Ek kry hope terugvoer en ek is dankbaar dat ons al die mense kon bystaan in die swaar tye. Mense kry weer hoop.

Dieselfde gebeur egter nie met die tekste wat ons op ons verkeerde pad wys nie. Eintlik skram ons weg en lees vinnig daaroor. Dis erg wanneer ek sien hoe mense _unsubscribe_ van die nuusbrief as hulle aangepraat word vanuit die Woord.

As ons ernstig is met God se dinge, moet ons die volle verhaal vertel. Ons moenie net dit wat die mense wil hoor, vertel nie. Nee, ons moet God se hele boodskap verkondig. Ons moenie water bygooi om die erns van die boodskap af te water net om nie aanstoot te gee nie.

My vriend, my vriendin. Moenie ophou nie. Al lyk dit vir jou of daar geen opening  in die bos voor jou is nie, gaan voort. Loop binne die wil van God en doen dit waarmee Hy jou toevertrou het. Daar waar jy by jou werk is. By die huis. By jou vriende en selfs by die vreemdeling.

Hou net aan om te doen wat God wil hê jy moet doen! Moenie die goeters afwater net om by die mense in te pas nie. Moenie spoed verminder nie. Moenie dinge sê wat jy dink die ander wil hoor nie. Nee, noem die graaf ’n graaf.

En God sal die wind agter jou wees. God sal jou stuur en jou hand neem en vir seker sal die wêreld anders wees. Nee, nie omdat jy so oulik is nie, maar omdat jy toelaat dat God met Sy wonderlike boodskap deur jou werk. Dan sal die waarheid die heeltyd seëvier.

*Teks*

1 Tessalonisense 2:1-4

https://bible.com/50/1th.2:1-4.db

*Om oor na te dink*

Waar druk dit?

Waarmee moet jy deurdruk?

Wat van God?

*Gebed*

Vader, help my om U boodskap met ander te deel soos wat ek dit van U ontvang. U Woord is die Waarheid en niks anders as die Waarheid nie. Help my om dit nooit te verdraai om die guns van mense te probeer behou nie. Amen.

Shalom

*Geroep? Ja, jy! Net soos jy is!*

*Geroep? Ja, jy! Net soos jy is!*

Vers 4 moet weer aangeroer word: *4Nee, God self het ons uitgesoek vir hierdie wonderlike roeping. Hy het die evangelie in ons hande toevertrou. Ons sê daarom net wat Hy vir ons sê. Ons probeer nie om in mense se goeie boekies te wees nie. Ons doen net wat God van ons verwag. Hy weet wat die diepste motiewe van ons hart is.*

Dit is ongelooflik wat alles uit ’n vers kom as jy hom weer en weer lees. Die belangrikste in dié vers is die eerste sin: *God self het ons uitgesoek vir hierdie wonderlike roeping.* Jy is nie maar net nog iemand nie. Jy ís nie omdat jou pa en ma besluit het om nog ’n kind te hê nie. Jy ís omdat God ’n plan van jou in Sy kop gehad het. Daar is nie een stukkie toeval op die aarde nie. God het ’n plan met jou.

Tog stop ek eers net hier en wonder oor Pietie (skuilnaam). Iemand het hom by die besigheid aangebring. So ’n maer seun van sewentien. Hy is baie goed met sy hande. Die dag toe hy agtien word, kom hy eers na twaalf in om te sê hy gaan nie vandag kom werk nie, want hy het die vorige aand tydens die viering met sy motorfiets geval en hy is eintlik nog stormdronk. Toe hy nog jonk was, het sy pa en ma hom by sy suster afgelaai en nooit weer teruggekom nie. Hy moes na ’n kinderhuis gaan. Sy pa en dié se meisie daag ewe skielik verlede week weer voor sy klein woonstelletjie op en neem hulle intrek. Weens té veel mense in die woonstel is almal uitgeskop en nou sit hy op straat.

Is dit ook God se plan? Was Pietie ook God se idee?

Ja! God het ook vir Pietie geroep om Sy kind te wees en Hy wil hom ook gebruik? Dit was verseker nie God se idee dat sy pa en ma hom net so sou los en eintlik op ’n manier vir die wolwe, of wie ookal bereid was om hom op te tel, te gooi nie. Dit was nie God se idee dat die lewe met hom mors nie.

Dit was die resultaat van mense se swak besluite wat heel waarskynlik gedryf was deur die eie ek. God het nie van plan verander nie: Pietie is nog steeds geroep! God wil hom gebruik. Hier waar hy sukkel om nee te sê vir die dwelms en soms daarin faal, hier wil God hom gebruik. Al verander die wêreld en die mense die pad waarop ons die lewe loop, verander God se plan vir ons nooit nie.

Dit geld vir elkeen van ons. Maak nie saak deur watter draaie die lewe jou geneem het en op watter pad jy vandag loop nie, God het ’n plan met jou. Daar waar jy jou bevind wil God jou gebruik. God wil deur jou ’n verskil maak in die lewe van ander mense in jou omgewing. Hoor jy wat ek sê? Jy, met al jou swakhede. Jy, met al jou foute en tekortkominge. Dit is God se idee dat jy die een is wat iets daar moet doen.

Jy moet besef dat die Almagtige God jou as ’n idee in Sy kop het en dat Hy jou wil gebruik. Wanneer jy dan tree vir tree iets begin doen, word jy anders. Dan besef jy dat die taak wat God jou gegee het, ’n groot voorreg is! En stadig maar seker doen jy al hoe meer en weet jy dat, deur genade en met baie krag van die Heilige Gees,  God se idee in die wêreld begin grondvat as gevolg van jou bereidheid om bruikbaar te wees vir Hom.

Ek kry nou die dag die e-pos:

Noag was ’n dronkie
Abraham was te oud
Isak was ’n dagdromer
Jakob was ’n leuenaar
Lea was lelik
Josef was mishandel
Moses het gehakkel
Gideon was bang
Simson het lang hare gehad en was ’n rokjagter
Ragab was ’n prostituut
Jeremia en Timoteus was te jonk
Dawid het ’n buite-egtelike verhouding gehad en was ’n moordenaar
Elia wou selfdood pleeg
Elisa het kaal gepreek
Jona het van God gehardloop
Naomi was ’n weduwee
Job was bankrot
Petrus het Christus verraai (3 maal)
Die dissipels het aan die slaap geraak toe hulle moes waghou vir Jesus
Martha het haar oor alles bekommer
Maria Magdelena was losbandig
Die Samaritaanse vrou was geskei, meer as een keer...
Saggeus was te kort
Paulus was te geestelik
Timoteus het ’n maagseer gehad
En Lasarus was dood!
En jy?

*Teks*

1 Tessalonisense 2:1-4

https://bible.com/50/1th.2:1-4.db

*Om oor na te dink*

Glo jy dat God jou geroep het?

Glo jy dat God jou wil gebruik?

Hoe?

*Gebed*

Vader, U het ook vir my geroep sodat ek in U kan glo en volgens U wil vir my lewe kan leef. Dankie vir die voorreg om in U diens te kan staan. Help my om gehoorsaam en bruikbaar te wees. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Shalom

*Net die volle waarheid*

*Net die volle waarheid*

Paulus vertel dat dit nie aldag rooskleurig was om die Woord van God aan die mense te bring nie. Party het op hulle gespoeg en dinge gesê wat ’n mens nie hier kan herhaal nie. Hulle is met stokke geslaan en selfs in die tronk gegooi en tog laat dit hulle nie van hulle roeping afwyk nie: *3Ons het aanhou preek en vir die mense gesê om te glo. Ons het nie ons prediking skielik afgewater of verdraai om onsself te pas nie. Ons het nie geheime agendas nie.*

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar dat dit nie altyd maklik is om vandag hier in ons wêreld vir God se dinge op te staan nie. Die omstandighede is soveel anders en die meeste van ons se lewens is nie naastenby in gevaar as ons vir God se dinge opstaan nie. En tog sukkel ons.

Ek gaan stap vir stap deur die Bybel en probeer by elke teksvers stilstaan en hoor wat God daaroor sê. Daar is lekker tekste wat ’n mens moed gee en ’n hand op jou skouer sit as die lewe daar buite die lewe in jou wil dooddruk. Maar daar is ook tekste wat nie so lekker is nie. Dis dié wat ’n mens so bietjie oor die vingers tik en met ’n skerp lig in die donker kolletjies van ’n mens se lewe lig en dan is die prentjie nie so mooi nie. Hierdie tekste is nie so gewild in ons geweste nie.

In ons bediening sien ek hoe die bemoedigende tekste heen en weer vlieg soos vriende dit vir mekaar aanstuur. Ek kry hope terugvoer en ek is dankbaar dat ons al die mense kon bystaan in die swaar tye. Mense kry weer hoop.

Dieselfde gebeur egter nie met die tekste wat ons op ons verkeerde pad wys nie. Eintlik skram ons weg en lees vinnig daaroor. Dis erg wanneer ek sien hoe mense _unsubscribe_ van die nuusbrief as hulle aangepraat word vanuit die Woord.

As ons ernstig is met God se dinge, moet ons die volle verhaal vertel. Ons moenie net dit wat die mense wil hoor, vertel nie. Nee, ons moet God se hele boodskap verkondig. Ons moenie water bygooi om die erns van die boodskap af te water net om nie aanstoot te gee nie.

My vriend, my vriendin. Moenie ophou nie. Al lyk dit vir jou of daar geen opening  in die bos voor jou is nie, gaan voort. Loop binne die wil van God en doen dit waarmee Hy jou toevertrou het. Daar waar jy by jou werk is. By die huis. By jou vriende en selfs by die vreemdeling.

Hou net aan om te doen wat God wil hê jy moet doen! Moenie die goeters afwater net om by die mense in te pas nie. Moenie spoed verminder nie. Moenie dinge sê wat jy dink die ander wil hoor nie. Nee, noem die graaf ’n graaf.

En God sal die wind agter jou wees. God sal jou stuur en jou hand neem en vir seker sal die wêreld anders wees. Nee, nie omdat jy so oulik is nie, maar omdat jy toelaat dat God met Sy wonderlike boodskap deur jou werk. Dan sal die waarheid die heeltyd seëvier.

*Teks*

1 Tessalonisense 2:1-4

https://bible.com/50/1th.2:1-4.db

*Om oor na te dink*

Waar druk dit?

Waarmee moet jy deurdruk?

Wat van God?

*Gebed*

Vader, help my om U boodskap met ander te deel soos wat ek dit van U ontvang. U Woord is die Waarheid en niks anders as die Waarheid nie. Help my om dit nooit te verdraai om die guns van mense te probeer behou nie. Amen.

Shalom

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...