Dinsdag 23 Junie 2020

DINK JY MEER VAN JOUSELF AS WAT JY MOET?

DINK JY MEER VAN JOUSELF AS WAT JY MOET?
Nadat jy in Graad 8 amptelik in die hoërskool is, voel die senior leerlinge in jou skool dalk dat jy weer ‘n bietjie terug aarde toe gebring moet word. In hulle oë dink jy dalk te veel van jouself of is jy waarskynlik nie nederig genoeg na hulle mening nie. Met ‘n meerderwaardige houding sal jy beslis in Graad 8 jou rieme styfloop!

Jy prestreer dalk goed op sportgebied of in jou akademie, of blink uit op ‘n ander terrein en is dalk in Graad 7 baie opgehemel as gevolg van jou goeie prestasies. 
Waak daarteen om nie meer van jouself te dink as wat jy moet nie. Die talente wat die Here vir jou gegee het, maak nie van jou ‘n beter mens as iemand anders nie. Moet nooit windmakerig of grootdoenerig oor jou prestasies wees nie.

Die feit dat jou pa ryk is, gee jou ook geen rede om te dink jy is beter as ander mense nie. Die aansien of posisie van jou ouers, hul status of die tipe motor wat jou pa of ma ry, maak nie van jou ‘n beter mens as enige van jou klasmaats nie. 
Inteendeel, dit gee jou slegs rede tot dankbaarheid. 

In die Bybel word daar op verskeie plekke na hoogmoed verwys, omdat dit ‘n van die vroegste tye af ‘n probleem was wat by mense na vore gekom het. 

Mens kan gewoonlik in iemand se oë sien as hy / sy hoogmoedig is. Dit is een van jou sintuie wat jou hoogmoed heel eerste verraai, want jou oë word beskou as die vensters van jou siel. 

In die verklarende woordeboek word na hoogmoed verwys as ‘n abnormale gevoel van eie waarde, trotsheid, verwaandheid of hovaardigheid. 

Dit is interessant om daarop te let dat die Ou Testament veral van die woord “trots” gebruik gemaak word in plaas van “hoogmoed” Hierdie trots verwys natuurlik na die negatiewe tipe trots wat na hoogmoed verwys. In die Nuwe Testament word die term “hoogmoed” gebruik. 

Hoogmoed is vir God ‘n steen des aanstoots. Hy wil nie hê ons moet hoogmoedig wees nie en daarom word ons herhaaldelik in die Bybel daarteen vermaan.

GOD HOU NIE VAN HOOGMOED NIE - INTEENDEEL, HY HAAT DIT!

Ps. 101:5 “... hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie.”

Spr. 6:16-17 “Hierdie ses dinge haat die Here, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel:
trotse oë, ‘n leuenagtige tong ...”

Spr. 8:13 “Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is; hoogmoed, en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek”

HOOGMOED IS ‘N BOOSHEID EN MAAK JOU ONREIN.

Mark. 7:20-22 “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. 
Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”

GOD WEERSTAAN DIE HOOGMOEDIGES (Weerstaan beteken teenstaan of opponeer).

Jak. 4:6 “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges’ gee Hy genade”

1 Pet. 5:5 “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

GOD LAAT DIE HOOGMOEDIGES TOT ‘N VAL KOM.

Spr. 15:25 “ Die Here ruk die huis van die trotsaard om ...”

Spr. 16:18 “Trotsheid kom voor die verbreking en hoogmoed kom voor die val”

Matt. 23:12 “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.”

In Rom. 11:20 kry ons ‘n direkte vermaning:
“Moenie hoogmoedig wees nie ...”

Ons kry in die Bybel talle voorbeelde van mense wat hoogmoedig was en wat met hullr gebeur het as gevolg van hulle hoogmoed, bv.

Nebukadnezar: Eseg.29
Moab: Jer. 48:29-31
Die koning van Babel: Jes. 14:11-14

Jesus Christus is dwarsdeur die Bybel vir ons ‘n voorbeeld van nederigheid. Sy wandeling op aarde het gespreek van nederigheid: gebore in ‘n krip, sy vader ‘n ambagsman, sy bemoeienis nie met rykes en belangrikes nie, maar met nederiges, siekes, ens. Hy ry op ‘n donkie Jerusalem binne. En Hy is die koning van konings! Niks aanstellerig nie, nooit hoogmoedig nie. 

WIE IS ONS OM HOOGMOEDIG TE WEES?

In Fil. 2:3-4 staan
“Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...