*Geroep? Ja, jy! Net soos jy is!*
Vers 4 moet weer aangeroer word: *4Nee, God self het ons uitgesoek vir hierdie wonderlike roeping. Hy het die evangelie in ons hande toevertrou. Ons sê daarom net wat Hy vir ons sê. Ons probeer nie om in mense se goeie boekies te wees nie. Ons doen net wat God van ons verwag. Hy weet wat die diepste motiewe van ons hart is.*
Dit is ongelooflik wat alles uit ’n vers kom as jy hom weer en weer lees. Die belangrikste in dié vers is die eerste sin: *God self het ons uitgesoek vir hierdie wonderlike roeping.* Jy is nie maar net nog iemand nie. Jy ís nie omdat jou pa en ma besluit het om nog ’n kind te hê nie. Jy ís omdat God ’n plan van jou in Sy kop gehad het. Daar is nie een stukkie toeval op die aarde nie. God het ’n plan met jou.
Tog stop ek eers net hier en wonder oor Pietie (skuilnaam). Iemand het hom by die besigheid aangebring. So ’n maer seun van sewentien. Hy is baie goed met sy hande. Die dag toe hy agtien word, kom hy eers na twaalf in om te sê hy gaan nie vandag kom werk nie, want hy het die vorige aand tydens die viering met sy motorfiets geval en hy is eintlik nog stormdronk. Toe hy nog jonk was, het sy pa en ma hom by sy suster afgelaai en nooit weer teruggekom nie. Hy moes na ’n kinderhuis gaan. Sy pa en dié se meisie daag ewe skielik verlede week weer voor sy klein woonstelletjie op en neem hulle intrek. Weens té veel mense in die woonstel is almal uitgeskop en nou sit hy op straat.
Is dit ook God se plan? Was Pietie ook God se idee?
Ja! God het ook vir Pietie geroep om Sy kind te wees en Hy wil hom ook gebruik? Dit was verseker nie God se idee dat sy pa en ma hom net so sou los en eintlik op ’n manier vir die wolwe, of wie ookal bereid was om hom op te tel, te gooi nie. Dit was nie God se idee dat die lewe met hom mors nie.
Dit was die resultaat van mense se swak besluite wat heel waarskynlik gedryf was deur die eie ek. God het nie van plan verander nie: Pietie is nog steeds geroep! God wil hom gebruik. Hier waar hy sukkel om nee te sê vir die dwelms en soms daarin faal, hier wil God hom gebruik. Al verander die wêreld en die mense die pad waarop ons die lewe loop, verander God se plan vir ons nooit nie.
Dit geld vir elkeen van ons. Maak nie saak deur watter draaie die lewe jou geneem het en op watter pad jy vandag loop nie, God het ’n plan met jou. Daar waar jy jou bevind wil God jou gebruik. God wil deur jou ’n verskil maak in die lewe van ander mense in jou omgewing. Hoor jy wat ek sê? Jy, met al jou swakhede. Jy, met al jou foute en tekortkominge. Dit is God se idee dat jy die een is wat iets daar moet doen.
Jy moet besef dat die Almagtige God jou as ’n idee in Sy kop het en dat Hy jou wil gebruik. Wanneer jy dan tree vir tree iets begin doen, word jy anders. Dan besef jy dat die taak wat God jou gegee het, ’n groot voorreg is! En stadig maar seker doen jy al hoe meer en weet jy dat, deur genade en met baie krag van die Heilige Gees, God se idee in die wêreld begin grondvat as gevolg van jou bereidheid om bruikbaar te wees vir Hom.
Ek kry nou die dag die e-pos:
Noag was ’n dronkie
Abraham was te oud
Isak was ’n dagdromer
Jakob was ’n leuenaar
Lea was lelik
Josef was mishandel
Moses het gehakkel
Gideon was bang
Simson het lang hare gehad en was ’n rokjagter
Ragab was ’n prostituut
Jeremia en Timoteus was te jonk
Dawid het ’n buite-egtelike verhouding gehad en was ’n moordenaar
Elia wou selfdood pleeg
Elisa het kaal gepreek
Jona het van God gehardloop
Naomi was ’n weduwee
Job was bankrot
Petrus het Christus verraai (3 maal)
Die dissipels het aan die slaap geraak toe hulle moes waghou vir Jesus
Martha het haar oor alles bekommer
Maria Magdelena was losbandig
Die Samaritaanse vrou was geskei, meer as een keer...
Saggeus was te kort
Paulus was te geestelik
Timoteus het ’n maagseer gehad
En Lasarus was dood!
En jy?
*Teks*
1 Tessalonisense 2:1-4
https://bible.com/50/1th.2:1-4.db
*Om oor na te dink*
Glo jy dat God jou geroep het?
Glo jy dat God jou wil gebruik?
Hoe?
*Gebed*
Vader, U het ook vir my geroep sodat ek in U kan glo en volgens U wil vir my lewe kan leef. Dankie vir die voorreg om in U diens te kan staan. Help my om gehoorsaam en bruikbaar te wees. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.
Shalom
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking