Dankie vir wat jy doen?
Paulus is baie opgewonde oor die mense van Tessalonika. Die boodskap van die opgestane Jesus Christus het ’n lêplek in hulle harte gekry. Daar was ’n merkbare verskil in hulle lewens en hulle optrede het dit gereflekteer. Daarom trek Paulus hier aan die begin van die brief weg met groot dank aan hulle: 2Elke keer wanneer ek met God oor julle elkeen praat, is daar net een woord op my lippe: Dankie!
Paulus is duidelik opgewonde oor die mense. Hulle moes iets reggekry of gedoen het. Dit wat Paulus die heeltyd vir al die mense vertel het, het op ’n manier by die mense vasgeslaan. In die volgende vers sien ons duidelik hoekom Paulus so opgewonde is: 3Ek vertel oor en oor vir God ons Vader hoe julle julle geloof uitleef in alles wat julle doen. Julle liefde vir ander mense vra baie groot opofferings van julle. En julle hou ook onverskrokke vas aan ons Here Jesus Christus se beloftes dat Hy terugkom.
Die vers kan seker ook so opgesom word: Ons geloof in God word sigbaar wanneer ons liefde in die wêreld gaan uitleef. Mense sien ons geloof raak as hulle ons liefdesdade ervaar. Natuurlik bring dit opofferings, maar juis daarom hou ons net aan God vas.
Hierdie is ’n beskrywing van die ware invloed van God in mense se lewens. Ons almal sal seker ook soos Paulus opgewonde raak en oor en oor met God praat as ons leerlinge ook dit wat ons aan hulle probeer leer het, so woord vir woord uitleef. Sjoe, elke predikant en pastoor sal alles agterna gooi as hulle gemeente ná Sondag se preek ook só in volspoed die Here begin dien.
Wanneer ander mense na ons kyk, sien hulle ons geloof raak?
Ek wonder hoe voel God oor ons doen en late omdat Hy in ons lewe is? Is daar iemand in jou invloedsfeer wat “oor en oor vir God ons Vader vertel hoe jy jou geloof uitleef in alles wat jy doen?” Is daar mense wat God se liefde deur jou voel? Is daar mense wat God se lig sien skyn wanneer jy in die omtrek is? Is daar mense wat ’n verskil in hulle omstandighede ervaar, omdat jy in jou eie lewe opofferings maak?
Nie maklike vrae nie, né! Nie maklike antwoorde nie, né!
Ai, my vriend. Hoekom word ons so ingesuig in die wêreld dat ons te besig raak om God se liefde in die wêreld uit te saai? Op ’n manier word ons aangejaag om net nóg besiger te word, om net nóg harder te werk en op die ou end geen tyd te hê of te kan maak vir God en die mense by wie Hy ’n verskil wil maak nie.
As daar iets gebeur en jy vir ’n maand lank nie by die mense met wie jy elke dag in aanraking kom, kan uitkom nie, gaan hulle jou mis?
Boy vertel my ’n storie van sy vriend se hond:
My vriend en buurman is vandag begrawe, ’n man na God se hart. Hy het vir die Here en goeie werke geleef. Daar is min, baie min sulke mense.
Na sy dood kry ek sy hond die jammerste.
Na my vriend se dood lê die hondjie ook daar vir dood. Neem van niemand notisie nie en eet niks. Ek gee baie aandag aan die Spaniel, maar niks help nie. Die hond treur meer as ons, sy vrou of enige iemand anders. En dit is net ’n hond!
Dis ’n eenvoudige storie van iemand wat ’n hond oorlaai het met liefde. Noudat sy baas nie meer daar is nie, mis die hond hom só baie dat hy self eerder wil doodgaan.
Miskien moet jy ’n afspraak maak in jou dagboek. Miskien moet jy tyd opsy sit om jou geloof te laat grondvat sodat ander mense deur God via jou aangeraak kan word en hulle oor en oor sal uitroep: Dankie God!
Teks
1 Tessalonisense 1:1-5
Om oor na te dink
Hoe voel God oor jou doen en late?
Vertel ander stories oor jou geloof?
Hoe moet jy jou liefde vandag gaan uitleef?
Gebed
Die wêreld het U so nodig, Vader. En ek besef dat dit ek is wat U aan die wêreld moet gaan wys met my liefdesdade. Maak my oë oop en wys my en gee my die krag om U liefde te gaan uitleef sodat die mense vir U kan dankie sê daarvoor. Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking