Sondag 08 April 2018

Gekies, geliefd en spesiaal

Gekies, geliefd en spesiaal

So baie keer kom ’n mens by die vraag te staan: Wat maak ek nou eintlik op die aarde? Wat is my doel? Is daar ’n roeping op my lewe? En ongelukkig is daar in ons almal se lewens keer op keer ’n tyd wat ons nie lekker antwoorde vir die vrae het nie.

Dis veral in tye wanneer dit nie so goed gaan nie. Tye wanneer ons baie meer vrae as antwoorde het. Tye wanneer niks wil uitwerk soos ons gedink het nie. Dan duik die groot onsekerheid ons plat en ons wonder of ons nie die flop in die pakkie is nie.

Dit laat dink my aan die storie van ’n besigheidsman wat in die tagtigerjare pype laat invoer het van China. In sy bestelling noem hy toe dat daar nie meer as 5% afwyking mag wees nie.

Die Chinese het die bestelling nie lekker verstaan nie, want as hulle ’n produk maak, maak hulle die produk 100%. Hulle ken nie van ’n persentasie afwyking nie. Op die ou end het hulle 95% van die bestelling perfek reg gestuur en 5% intensioneel krom en skeef.

Dit klink dalk na ’n belaglike storie, maar dis presies hoe God is. Die Engelsman sê mos: God don’t make no junk. En dis so waar. Vir elkeen van ons het God met ’n rede gemaak. God het elkeen van ons met die hand uitgekies. Glo jy my nie? Kom ons roep dan versterkings in. Paulus sê: 4My broers en susters, julle doen al dié wonderlike dinge omdat God julle baie liefhet. Hy het julle uitgekies om sy kinders te wees.

God het jou met die hand uitgesoek.

Hoor hoe mooi sê die Engelse vertaling dit: 4It is clear to us, friends, that God not only loves you very much but also has put his hand on you for something special.

Sê dit oor en oor vir jouself: God het my vreeslik lief. Hy het my uitgekies en ek is spesiaal. Want dis waar. In God se oë is daar nie ’n afwyking nie. In God se oë is ek 100%.

Ja, al voel en lyk dit nou nie eintlik vir jou so nie. Dalk het jy ’n paar keuses gemaak wat nie lekker vars was nie en nou sit jy anderkant tamatiestraat. Weet dat die omstandighede waarin jy nou sit nooit die feite kan wegneem dat God vir jou lief is, dat Hy jou uitgekies het en dat jy spesiaal is nie.

Maak nie saak hoe groot die sonde is wat jy aangevang het nie. Selfs sonde kan nie God se liefde vir jou kom steel nie. Ten spyte van al die sondes bly God vir ons lief. Al het ek woes in die hek geduik, is ek steeds deur God gekies en wonder bo wonder dink Hy steeds dat ek spesiaal is.

As ek so terugkyk oor my eie lewe kry ek maar skaam vir wat ek alles aangevang het. As ek dan besef dat God se liefde niks minder geraak het nie, staan ek verbaas. Dan wil ek myself optrek uit die gat en ’n voluit lewe as geliefde, uitverkorene en spesiale 100% kind van God in die wêreld gaan leef.

Teks

1 Tessalonisense 1:1-5

Om oor na te dink

Dink jy jy’s spesiaal?

Dink jy God het jou lief?

Glo jy dat God jou spesiaal gekies het?

Gebed

Vader, ek het hierdie bevestiging vandag nogal nodig gehad. Dat U, die almagtige God, my uitgekies het om U kind te wees. Help my om te glo dat dit ook van my waar is en dat ek nooit weer daaraan hoef te twyfel nie. Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...