Bid vir mekaar, want dit werk!
Ek onthou nog die dae toe ek betrokke was by die fabriek. Vroeg soggens, as die slaap my ontwyk, het ek sommer begin bid vir al die mense wat saam met my gewerk het. Sommige van hulle se name het ek nie eers onthou nie, maar dan verwys ek na daardie ses manne wat die produkte uit die moulds haal of die hopie vrouens wat die fabriek skoonhou. Ek is seker daarvan God weet van wie ek praat. Vir baie van die mense was dit die eerste keer dat iemand vir hulle bid.
Ek onthou nog van my gebede. Die een was vir die hoofman in die fabriek wat wéér gegaan het vir sy motorlisensie en ja, dit die keer wel gemaak het. Ek glo in gebed. Ja, selfs vir sulke goeters. Dit is nie omdat dit ek is wat gebid het nie, maar omdat God en gebed kragtig is.
Ek glo daarin!
Paulus glo ook in gebed en daarom bid hy gedurig vir sy lesers: 12My gebed is dat die Here julle baie lief vir mekaar sal maak. En ook vir ander mense. Mag julle liefde net sterker en sterker word. Julle moet net so lief wees vir ander as wat ek nou vir julle is.
Paulus glo dat sy gebed of gesprek met God ’n verskil kan maak. Hy glo dat God sy gebed hoor, maar nog méér: Dat God sal reageer en iets doen. Paulus hou aan met bid, want in sy lewe het gebed al te veel reggekry om nie te bid nie.
Dit help nie ons bid as ons nie glo dat God luister nie. Lees weer die sin, want dit maak eintlik baie sin. Ja, bid ons nie dikwels met ’n gevoel van probeer-en-tref nie? Soms bid ons, maar ons glo nie eintlik dat dit enige verskil gaan maak nie.
As jy egter wel glo in gebed, moet jy aanhou bid. Soveel as moontlik. Bid vir familie en vriende. Ek het dit al so baie gesê, maar ek glo regtig dat dit my moeder se gebede is wat ons hoop kinders op die pad gehou het. Ons moet baie en ernstig bid vir mekaar, want dit werk!
En soos Paulus voorstel, is die beste ding waarvoor ons vir mekaar kan bid, die liefde. Soos die spreekwoord sê: Love makes the world go round. Dis die petrol waarop ons deur die lewe loop. Daar waar liefde is, word die haat en seer weggedruk. Dan gaan dit beter, want mense gee vir mekaar om. Ander mense raak belangriker as die eie ek.
Op ’n manier vra ons seker dat ons so ’n bietjie van ons eie stoel sal afklim en eerste aan die ander een se behoeftes sal dink. Dit is waarvoor ons vir mekaar moet bid. Wanneer die liefde by elkeen van ons posvat, sal die wêreld handomkeer verander.
Hier is die opdrag: Bid vir jou familie, vriende, werknemers, werkgewers, kollegas, onderwysers en selfs die ouens wat jy nie so goed ken nie. Bid dat die liefde van God ’n werklikheid in hulle lewens sal word. Bid ook dat God in hulle lewens sal woel en dat die sonde al hoe minder in hulle lewens sal opduik.
Teks
1 Tessalonisense 3:11-13
Om oor na te dink
Glo jy regtig in gebed?
Vir wie moet jy nou bid?
Hoe sterk is jou liefde vir ander?
Gebed
Vader, U leer ons van die liefde. Help ons om U voorbeeld te volg en mekaar lief te hê. Help ons om ons lippetaal om te sit in dade sodat ons liefde sigbaar kan word. Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking