Dinsdag 08 Mei 2018

Spring ander in die lug oor jou?

Spring ander in die lug oor jou?

In die gedeelte kom ’n mens duidelik agter dat Paulus baie respek het vir die mense van Tessalonika. Hy is so opgewonde oor hulle dat hy graag weer by hulle wil gaan kuier, maar kort-kort word daar ’n stokkie voor gesteek. Paulus is opgewonde oor die mense se geloof. Hy loop oor van vreugde omdat die mense ’n ommekeer gemaak het en nou op God se pad is.

19Ek is verskriklik trots op julle, want ek weet julle is op pad na God se nuwe wêreld. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus terugkeer, sal my hart oorloop van blydskap as ons voor Hom staan. Julle sal die bewys wees dat ek my werk vir die Here goed gedoen het. Dan sal ek nie my kop in skaamte hoef te laat sak nie. Op ’n manier is hulle bekering ’n getuienis van Paulus se werk saam met die Heilige Gees.

Die jong, nuwe Christene het alles wat van hulle verwag word, gedoen. Hulle het vasgebyt en te midde van aanvalle van die mense het hulle volgehou om God te dien. Selfs al was hulle lewe soms in gevaar het dit hulle nie van stryk gebring nie.

Hulle moes seker ook soms onseker gewees het oor die nuwe boodskap wat so anders is as wat hulle ouers geglo het, maar steeds het hulle volhard. Soveel so dat Paulus eintlik op ’n manier met hulle spog en hulle voorhou as voorbeelde van hoe jy regtig as ’n volgeling van Jesus Christus moet lewe. Ja, die Heilige Gees het ook ’n groot klomp werk in die mense gedoen.

Wanneer ek sulke stories lees, raak ek skaam. Wanneer ek getuienisse in die kerk hoor van mense wat tot inkeer gekom het en die hele wêreld vir God aan die brand steek, raak ek skaam. Waar het ons ander dan spoed verloor? Sal Paulus ook op en af spring van blydskap as hy ons by die hekke van die hemel ontmoet?

Vriende, op ’n manier het die wêreld en ons keuses ons gemaksugtige kinders van die Here gemaak waar niemand eintlik ’n voorbeeld is van ’n aan die brand geloof nie. Is jy die sendeling of die sendingveld?

Kom ons vereenvoudig die vraag: Maak jy ’n verskil in ander se lewens? Gaan daar eendag ’n bergie by die hek staan en groot glimlag en sê: “Sjoe, ek is bly om jou te sien. Haai julle! Sien julle die ou? Dit is die een waarvan ek julle so baie vertel het. Hierdie ou het regtig ’n groot verskil in my lewe gemaak.”

“Toe ek honger was, kon ek altyd by die ou se huis aanklop, want hy sou vir my altyd brood gee. Sulke lekker dik toebroodjies met warm koffie en 3 lepels suiker. Een dag het hy vir my sy splinternuwe K-Way baadjie gegee – sommer net so. As daardie ander blikskottels nie die baadjie gevat het nie, het ek dit nou nog aangehad.”

“Nee, hierdie ou het regtig in God geglo. Ek weet dit. Nie omdat hy dit vir my gesê het nie, maar omdat ek dit in sy dade gesien het.”

Ek weet nie van jou nie, maar ek sal ’n paar dinge in my lewe moet verander, sodat Paulus en ander ook trots kan wees op my. Op my eie sal ek dit nie regkry nie, maar met God en sy Gees wel. So help my God.

Teks

1 Tessalonisense 2:17-20

Om oor na te dink

Wat gaan die ander van jou sê?

Gaan ander opgewonde wees om jou te sien instap by die hemel?

Gebed

Ons Vader wat in die hemel is, hoe graag wil U nie opgewonde wees oor U kinders wat doen wat U van hulle vra nie? En tog val ons vas in die modder en doen juis nie wat U van ons verwag nie. Help ons om op te staan en voort te beur en te doen wat U gelukkig maak. Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...