Derde party versekering Dag 2
Dag 2: Staan sterk teen die versoekings!
Ek glo dat enige paartjie wat trou, trou nie met die intensie dat hulle gaan plek maak vir ‘n derde party in hulle huwelik nie. Nee… ons trou, want ons het ‘n diep begeerte om ons lewens te deel met iemand. Ek glo dat meeste mense wat voor die kansel staan en trou beloof aan mekaar doen dit met ‘n opregte hart.
Die pyn, seer, trauma en verwyte wat die betrokkenheid van ‘n derde party in ‘n huwelik te weeg bring, is enorm. Ons by Lofoord sal altyd eerder versoening en herstel promofeer as egskeiding. Ek verstaan daar is definitiewe gegronde Bybelse beginsels wanneer egskeiding “ok” is, maar ek glo u sal saam met my stem dat die letsels van ‘n egskeiding so diep is dat dit altyd die laaste opsie moet wees.
“Marriage is about giving – Adultery is about taking!”
Kan ‘n mens nie Derde Party Versekering uitneem vir jou huwelik nie?
“Virseker” – (Net ‘n grappie!)
God se gedagtes het nog nooit verander nie. Hy het die reëls bepaal van die huwelik. Dis Sy bloudrukplan waarin en waardeur Hy Sy liefde en harmonie en vrede kommunikeer. Dis binne ‘n huwelik waarin Hy vryheid van intimiteit seën.
Spreuke 6: 27-29 – “Kan jy kole vuur in ‘n voorskoot dra sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop en nie jou voete skroei nie? Net so is dit met iemand wat by ‘n ander man se vrou gaan slaap. Niemand wat met haar lol, sal ongedeerd daarvan afkom nie.”
God sê: moenie oorgee aan hierdie goed nie. Ek het vir jou ‘n uitkoms. Dis nie net ‘n versekeringspolis met grys areas nie. Dis God se versekering wat Hy jou gee. Hy gee jou Sy Woord. Hier is die versekering wat Hy gee vir enige aanslae teen jou huwelik:
1 Kor. 10:13 – “Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.”
Die klem is op “midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg!”
Net so terloops, as jy dalk voel: “Gelukkig is my huwelik gesond. Dit sal nie met my gebeur nie!” Die teksvers net voor hierdie een sê: “As julle dink julle staan sterk, oppas dat julle ook nie tot ‘n val kom nie.”
GEBED:
Hemelse Vader, dankie dat U getrou is en in die midde van ons storms die uitkoms gee. Maak asb ons ore oop sodat ons die stille influistering van U stem kan hoor en ag slaan op U waarskuwings. Dankie dat U nog nooit opgegee het op ons nie. Ons is so lief vir U Vader.
Dankie dat U ons huwelike beskerm. Ons eer U. In Jesus Naam. AMEN!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking