Saterdag 12 Mei 2018

Dag 1: Maak vrede daarmee – Ons verskil!

Derde party versekering     Dag 1

Dag 1: Maak vrede daarmee – Ons verskil!

Daar is so ‘n klomp verwagtinge wat saam met jou kansel toe gaan en ek wil jou verseker mans, vrouens… Jy moet dit weet.. Jy trou nie met ‘n perfekte huweliksmaat nie. Dis dalk jou pot se deksel, maar enige paartjie wat al lank getroud is sal vir jou vertel dat dit nie altyd maanskyn en rose was nie. Sodra daai pot op die stoof staan en hy word warm, lyk dit sommer of daai deksel wil afspring.
‘n Welbekende skrywer, Dr Harley skryf dat vrouens en mans se behoeftes en verwagtinge van die huwelik verskil. Vrouens het ‘n behoefte aan:
Koestering – Mans, vrouens hou daarvan as jy hulle vashou en in die oë kyk en vir hulle sê hoe lief jy hulle het.
Kommunikasie – Verklaar jou liefde aan haar. Moenie net aanneem sy weet dit nie. Hierdie is gewoonlik mans se swakste eienskap en daarom moet hulle die hardste daaraan werk.
Eerlikheid - As sy jou vra of die rok aan haar mooi is, wees eerlik, maar kies jou woorde reg!
Finansiële stabiliteit – Hulle verwagting is nie miljoene in die bank nie, net stabiliteit.
‘n Gesinslewe – Hulle wil ‘n teenwoordige man en Pa vir die kinders hê wat deel is van familie aktiwiteite. Hulle wil hê jy moet daar wees. Mans, daar is 2 vorme van teenwoordig wees. Om by die huis te wees is ‘n vorm van teenwoordig wees, maar om voor die TV te sit en te maak asof jy luister is glad nie teenwoordig wees nie.
Dr Harley skryf dat mans het net een behoefte. Hulle het hierdie oordrewe verantwoordelikheidsin om seker te maak die menslike spesie sterf nie uit nie. Hulle is nogal “ok” met koestering!
Nee vrouens, Dr Harley skryf dat mans ‘n behoefte het dat hulle huweliksmaat iets saam met hulle sal doen. My vrou hou glad nie van visvang nie, maar terwille van ons as gesin het sy gesien dis belangrik vir my as ons iets saam doen. Nou maak ons ‘n uitstappie daarvan. Ek kan vir ‘n oomblik my foon afsit en hulle het my vir ‘n dag. Niemand anders kan ons tyd saam kom steel nie. Raai wat… Nou geniet sy die uitstappie want ons as gesin geniet dit.
Mans hou daarvan as sy vrou na haarself kyk en natuurlik hou ‘n man van komplimente. Mans het nie ‘n begeerte aan komplimente van ander mense nie. Hy blom as dit van sy vrou af kom!
Ongelukkig mis ons soveel keer hierdie behoeftes, want ons word ingetrek by goed wat ons as belangrik ag. Dit veroorsaak krapperigheid en sonder dat jy weet jy doen dit, is jy besig om ‘n “score sheet” op te trek tussen jou man en daai ou by die werk. Jy tref vergelykings tussen jou vrou en daai sekretaresse. “sy verstaan my...”
Luister mooi… sodra jy daai “score sheet” optrek, lê die probleem nie meer tussen jou en jou maat nie. Die probleem lê tussen jou ore. ‘n Mens noem dit “Stinking thinking!”
As dit gaan oor regte in jou huwelik wat jy heeltyd net wil afdwing, is jou huwelik in ‘n bootjie wat reguit oppad is na die rotse toe. “As jy net wil doen wat ek sê….” Voor jy jou oë uitvee is jy op ‘n plek wat nie lekker is nie.
GEBED:
Hemelse Vader. Dankie dat U ons nie dieselfde gemaak het nie. Ons verskil van mekaar. Nie een persoon se duimdruk is dieselfde nie. Dis juis hoekom ons vandag ons diepe afhanklikheid aan U bely om ons te help met ons verhoudings.
Help ons om mekaar eerste te stel en mekaar te dien soos U voorbeeld van U Seun, Jesus Christus. Ons bid dit in Sy Naam, Jesus alleen. AMEN!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...