Verras deur ʼn arm weduwee!
Markus 12:41-44
… 42 Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd… 44 (en Jesus het gesê:) Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”
Het jy geweet dat 30.4 miljoen mense in Suid-Afrika in armoede leef, en sowat 7.2 miljoen mense in ekstreme armoede leef? As jy ‘n huis het om in te bly, lopende water, elektrisiteit, en genoeg kos het, is jy deel van die 40% rykste mense in die land (Statistics South Africa Report).
Wanneer ons van die arm weduwee lees, vertel dit vir ons dat dit nie saak maak hoeveel jy het om te gee nie, maar wat jy het om te gee en hoekom jy dit gee. Hierdie teks herinner ons dat God elkeen van ons geseën het met gawes wat ons kan gee aan ander. Dit is uit liefde vir God dat ons dit so vrylik deel!
Gee jou alles!
Gebed: Here, dankie dat U ons so ryklik seen! Dankie vir liefde, tyd, en ‘n passie om ander lief te hê. Help ons om te onthou dat ons meer is as ons besittings. Herinner ons daaglik dat u ons stuur om ander lief te hê met ons gawes en menswees.
Uitdaging: Deel ‘n ete met iemand of skenk iets uit jou kas. Bonus uitdaging – spandeer tyd saam met iemand wie jy min sien of nie van hou nie!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking