Dinsdag 10 April 2018

Soos n ma

Soos ’n Ma

Voor Paulus se bekering was hy ’n donder-en-bliksemstraal man gewees. Niks kon in sy pad staande bly nie. Rof en onbeskof het hy gesorg dat die werk gedoen word en as dit beteken dat mense doodgemaak moet word as hulle nie wil luister nie, dan het hy so gemaak.

Die Paulus wat ons egter in die Nuwe Testament leer ken, is totaal en al anders. Die rowwe man het sag geword, sensitief met ’n hart vir sy medemens. Hy het sy roeping ernstig opgeneem. So sag soos ’n moeder wat haar kinders borsvoed, met soveel liefde het hy hom oor die mensdom ontferm.

Glo jy my nie? Wel, hier is hy self aan die woord: 7Natuurlik kon ek my gesag daar by julle misbruik het as ek regtig wou. Ek is immers deur Christus self as sy apostel aangestel. Maar ek was glad nie kwaai met julle nie. Allesbehalwe. Ek het julle vertroetel en mooi versorg, net soos ’n liefdevolle mamma wat haar kindertjies borsvoed.

Ek onthou nog toe my vrou ons kinders geborsvoed het. Ek kon die liefde wat my vrou vir ons kinders het in haar oë sien. Sy het altyd so op haar lippe gebyt en dan die kleintjie net stywer vasgehou. Met alles in haar het sy die kinders beskerm en seker gemaak dat hulle alles kry wat hulle nodig het. Sy het op haar tone geloop as hulle slaap en as die eerste geluidjie uit hulle monde kom, was sy daar om te kyk wat hulle nodig het.

Dit is hoe ons moet voel oor die mense met wie ons elke dag in aanraking kom. Ons moet ’n hart hê soos Paulus wat regtig omgee vir mense. Wanneer jy só vir die mense omgee, is jy besorg oor hulle welstand. Dan is jy op die uitkyk waar jy hulle kan help, veral as hulle veiligheid bedreig word. Ons moet mense se potensiaal raaksien en hulle saggies help om dit te ontwikkel.

Soos Hennie (skuilnaam). My vriend Johan vertel die storie:

Pieter (skuilnaam) is vir 18 jaar in die tronk vir gewapende roof. Maar een van die tronkbewaarders, Hennie, het sy potensiaal raakgesien en ’n spesiale verhouding het tussen die twee ontstaan. Hennie het Pieter se potensiaal raakgesien, want hy het nie gefokus op die rede hoekom hy in die tronk was nie. Hy het vir Pieter aangemoedig om te studeer.

Binne die volgende tien jaar het Pieter Jesus aangeneem as sy Verlosser, menigte Bybelskool kursusse gedoen, twee finansiële grade by Unisa (cum laude) verwerf, die evangelie met mede-gevangenes gedeel, wiskunde klasse vir hulle gegee (waarvoor hy ’n sertifikaat van die WKOD ontvang vir die beste resultate) en nog vele meer.

Blikkies! My hare staan regop oor my hele lyf.

Hennie sê dat hy dit as sy roeping sien om gevangenes se potensiaal raak te sien en hulle te help om daarby uit te kom. Omdat hy regtig omgee. Omdat hy lief is vir sy medemens, ondanks die feit dat hulle misdadigers is. Soos ’n borsvoedende moeder vertroetel en versorg hy hulle. Met alles in hom gee hy om en sal nie toelaat dat enige iets in sy pad staan om sy roeping uit te leef nie.

Die wêreld soek nog sulke Hennies. En eintlik is dit elkeen van ons Christene se roeping. Toe man, gaan wees jy vandag ’n Hennie daar waar jy deur die wêreld loop.

Teks

1 Tessalonisense 2:5-12

Om oor na te dink

Waar kan jy vandag rêrig gaan omgee?

Wie se potensiaal moet jy help ontdek?

Watter naam kom by jou op as jy die woord versorging hoor?

Gebed

Vader, soos U ons versorg met liefde en geduld, help ons ook om mekaar so te hanteer. Leer ons om sag en hulpvaardig te wees en op die manier mekaar op die regte pad te help. Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...