*Om die outeur van die Bybel te ontmoet*
Dit voel soms of daar soveel opinies oor die Bybel is soos wat daar mense op die aarde is. Mense haal sogenaamde waarhede uit die Bybel wat my laat wonder hoe hulle dit regkry, want dis soms die teenoorgestelde van dit wat ek daarin lees.
Ek weet ons moet ruimte hê vir mekaar, want ons elkeen kom met ’n ander bril na die Bybel en sien dinge verskillend. Ons moet besef dat ons opvoeding, ons ouers, ons vriende, die kerk waarin ons aanbid en nog vele meer die bril vorm waardeur ons na die Woord van God kyk. Die bril wat ons dra bepaal die beeld en boodskap wat ons kry.
En soms is die bril nie heeltemal effektief nie. Ek dra ’n bril en ek kan nie altyd sien as my bril vuil is nie. Ek moet eers die bril afhaal om te sien dat dit nie skoon is nie. Die vuilheid gee ’n verdraaide of dowwe beeld van die werklikheid. So is die bril waardeur ek na die Bybel kyk ook vuil en moet ek dit eers afhaal en skoonmaak om weer ’n duidelike beeld van God se Woord te kry.
Dit impliseer selfondersoek. Dalk het dit weer tyd geraak om na die oogkundige te gaan om seker te maak dat die bril nog reg is. Elke keer wanneer ek met ’n nuwe bril by die oogspesialis uitstap, lyk die stadsaal en die akkerbome weer so duidelik en dan sê ek vir myself: O, is dit hoe dit nou eintlik lyk?
Ons elkeen het ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat ons met die regte oë na God se Woord kyk en dit begin juis hier: Ons moet erken dat dit God is wat aan die Woord is. Op ’n manier het God se Woord deur die jare sy Goddelike karakter verloor, aldus die manier hoe mense deesdae daarmee omgaan. Ek wonder baie keer of God nog betrokke is by ons interpretasie van Sy woord.
Kom ons begin almal by die een vertrekpunt: Die Bybel is God se woorde. Dis deur God geïnspireer en daarom is dit Goddelik van aard. Mag die volgende ook van ons gesê word. *13Ek kan nie ophou om vir God dankie te sê oor julle nie. Toe julle begin glo het wat ons vir julle oor God vertel het, het julle nie slegs ’n paar menslike opinies oor God aanvaar nie. Nee, julle het die lewende God se woord aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord van God.*
Ja, dit is regtig die Woord van God. Wanneer ons dus met God se Woord omgaan, moet ons dit as God se woorde hanteer. Daarom is dit heilig. Daarom het ons respek en daarom het ons ’n verantwoordelikheid om reg daarmee om te gaan. Dit is ’n groot verantwoordelikheid, want ons het ’n invloed op baie mense in wie se lewe ons dalk ’n rol speel. Ons wil tog nie die oorsaak wees dat hulle bril vuil is nie. Of hoe?
Ons moet ruimte maak vir Sy Gees om ons te help om reg te sien. Gelukkig is ons nie alleen nie: *13... Hy (God) self werk nou in julle almal wat glo.*
Mag dit waar wees van my en jou lewe. Mag ons meer as net opinies hê oor God, maar mag ons deur Sy Woord hom rêrig leer ken en mag ons anders aan die ander kant uitkom, omdat ons die Outeur van die Bybel tussen die woorde persoonlik ontmoet het.
*Teks*
1 Tessalonisense 2:13-16
*Om oor na te dink*
Sien jy die Bybel as God se woorde?
Hoe lyk die bril waarmee jy na die Bybel kyk?
Hoe sien jy jou verantwoordelikheid om die Bybel in die strate te gaan uitleef?
*Gebed*
Vader, dankie vir U Woord. Dankie dat ons U daardeur kan leer ken. Help ons om ons verantwoordelikheid na te kom en vir die mense daar buite gaan wys wat in U Woord staan. Amen.
Shalom
Pieter
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Johnny, die sak pakker
Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...
-
GISTER IS VERBY EN MÔRE BESTAAN NOG NIE; MOENIE TE VEEL TYD DAAR SPANDEER NIE, DIT IS 'N MENSGEMAAKTE WÊRELD WAT NET IN JOU DENKE BESTAA...
-
Ek het grootgeword met die indruk dat die kerk teen alles is wat lekker is. Die kerk is téén sonde (jip, sonde kan lekker wees!), téén alle...
-
Moenie bekommer nie, vertrou! Matteus 6:25 Moenie gedurig loop en julle bekommer nie. Moenie van vroeg tot laat vra: ‘Gaan ek genoeg hê om...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking