Nog ’n kans
Ons ontmoet nog een van Paulus se vriende wat help om die evangelie uit te dra. Sy naam is Onesimus. Sy verhaal het nie so mooi begin nie. Hy was oorspronklik Filemon se werker, maar het êrens langs die pad gedros. Terwyl hy ’n leeglêer was, loop hy hom vas in Paulus en die verlossende boodskap draai vir Onesimus heeltemal om.
Hoor net die getuienis van Paulus: 9Ek het Onesimus gevra om saam met Tigikus Kolosse toe te gaan. Hy is mos een van julle. Hy is net so betroubaar soos Tigikus en ons is ook baie erg oor hom. Hy is ’n lojale broer vir ons. Wat Tigikus vergeet om vir julle van ons te vertel, sal Onesimus sekerlik byvoeg.
Sjoe, wat ’n mooi storie van iemand wat eers op die verkeerde pad was, glad nie betroubaar nie en net aan homself gedink het, maar toe hy in God vasloop, draai hy honderd-en-tagtig grade om. Die wat onbruikbaar is, raak bruikbaar wanneer die lewende God in hom of haar woel.
Ons raak so maklik moedeloos met ’n kind wat net nie op die regte pad wil klim nie. Of dalk is dit ’n eggenoot wat die heeltyd oor die grense van die huwelik loer. Dalk is dit ’n werknemer wat voortdurend laat is en intensioneel probeer om so min as moontlik te doen.
Ek vermoed Onesimus pas in een van die kategorieë. Dalk het Filemon hoop opgegee en toe hy dros het hy hom laat gaan. Gelukkig gee God nooit moed op nie en as mens in Hom vasloop, kan jy nie dieselfde bly nie.
Ons moet nooit moed opgee met iemand nie. God gee ons soveel kanse. Moet ons nie juis van die kanse wat ons in oorvloed ontvang vir die mense om ons uitdeel nie?
Ek weet daar is tye wanneer ons ’n streep in die sand moet trek en streng wees. Soms is die ander een se gedrag so destruktief dat jy moet stappe doen. Die vraag is egter of jy genoeg gedoen het om die een wat kies om op die verkeerde pad te bly, te help?
Ons kry ’n les in verhore by Fedsas, die organisasie wat skoolpersoneel se hande neem om die skool reg te bestuur. Ons praat oor verhore en kinders wat oortree het. Dit skok my toe hulle sê dat as jy ’n kind skors omdat hy of sy skuldig bevind word aan die gebruik van ’n verbode middel, die Onderwys Departement ’n ondersoek loots na wat die skool gedoen het om die kind te help met sy afhanklikheid.
Maar toe ek later mooi daaroor nadink, is dit presies wat ons moet doen. Ons moet ten alle koste probeer om ander by te staan en hulle uit die modder te help. Baie keer is dit net daardie een hand wat uitsteek wat die persoon nodig het om vir eens en vir altyd uit die modder te kom. Dikwels is dit juis die persoon wat jy uit die modder gehelp het wat weer later baie ander uit die modder trek, omdat hulle presies weet hoe dit voel om daar te wees en watter verligting daardie een hand wat hulle uitgetrek het, gebring het.
Dis hulle wat vir altyd lojaal bly. Dis hulle wat weet van swaar en uit dankbaarheid ander wil help om werklik ’n verskil in ander se lewens te maak.
God is ’n God van nog kanse. Dalk moet ons vandag ander nog ’n kans gee, want dalk is dit juis vandag die dag van honderd-en-tagtig grade se draai.
Teks
Kolossense 4:7-18
Om oor na te dink
Wie moet nog ’n kans kry?
Hoe gaan jy daardie persoon help?
Is daar hoop?
Gebed
Here, dankie vir al die kanse. Dankie dat U nie moed opgegee het nie. Ek weet ek moet ook van die genade aangee na die mense om my wat dit net so min soos ek verdien. Gee my wysheid om ook hier reg op te tree. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking