Wat die Rooivink ons leer oor Dissipelskap
Elke jaar staan ek my en verkyk hoe ywerig die Rooivink mannetjies begin nes bou vir die broeiseisoen wat voorlê. Hulle entoesiasme en werksverrigting is verstommend.
Hulle begin om sorgvuldig die blare af te pluk van die tak af waar hulle wil bou. Die tak moet skoon wees sodat hulle kan sien as daar gevaar nader kom. Die bouwerk begin in alle êrens. Die lang grasse en garing blare word met groot sorg inmekaar in gevleg en dan word die nes uitgelê met sagte gras en vere. Die nes is verbasend dig en beskut teen die elemente. Die nes word na die beste van sy vermoë gebou. Hy sit alles in, sonder aarseling en sonder om kort paadjies te soek. Geen moeite word gespaar nie. Hy swoeg van vroeg soggens tot laat middag. Na dae se arbeid is die nes uiteindelik klaar.
Baie entoesiasties word die wyfie uitgenooi en voor die keuse gesit om die nes te aanvaar en haar intrek te neem in die veilige vesting in. Sy kan kies. Aanvaar die nes of breek hom uitmekaar. Sou haar keuse wees om in te trek, is die bouwerk vir die mannetjie verby tot die volgende seisoen. Vir die res van die seisoen is sy taak net om te versorg totdat die kinders die nes verlaat.
Sou sy die keuse maak om die nes te verwerp, begin die mannetjie weer van vooraf bou, met dieselfde entoesiasme en ywer. Hy hou niks terug nie. Dit wil voorkom of daar nog ‘n groter dringendheid is om die nes te bou.
Ons kan baie leer by die Rooivink wat dissipelskap betref. ‘n Dissipel is niks anders as ‘n bouer en ‘n versorger nie. ‘n Ware dissipel bou aan die koninkryk van die groot Koning en versorg sy naaste. Kom ons kyk ‘n bietjie na die proses.
Op ons knieë kom ons voor ons Meester en vra Hom om vir ons iemand oor ons pad te stuur wie ons kan lief hê en dissipel. Ons dra die persoon dan op aan ons Here in gebed en vra vir sy beskerming teen die gevare van die vyand (die takkie wat skoon gepluk word sodat gevaar gesien en afgeweer kan word). Ons pak die bou proses met groot ywer en entoesiasme aan. Ons bou met die Woord en met liefde. Baie sorgvuldig vleg ons, onder die lyding van die Heilige Gees, die diep waarhede en die liefde van Jesus inmekaar in. Sodoende word ‘n veilige nes vir hom/haar geskep. Die binnekant van die nes word uitgelê met geloof, hoop en liefde. Die aanvaarding van Jesus as die absolute antwoord (beskerming) teen die aanslae (elemente) van die vyand word uiteindelik as keuse voorgehou. Hy/sy moet ‘n besluit neem.
Kies die Veilige Vesting of bly blootgestel aan die elemente. Sou hy/sy die regte keuse maak en intrek neem, begin die proses van versorging en heiligmaking. Sou die keuse wees om buite te bly, begin ons as dissipels se werk maar net weer van vooraf met groter ywer en dringendheid. Die bouwerk sal tien teen een nie met dieselfde persoon wees nie maar met iemand anders wat die Here op ons pad stuur.
‘n Dissipel se werk hou nooit op nie. Ons is voltyds in Sy diens, besig om te bou of te versorg. Soos die Rooivink mag ons dalk meer as een keer in ‘n seisoen bou. Ons mag nie moedeloos word nie. Ons taak is om die liefde van Jesus te leef en uit te dra. Soos vir die Rooivink word die seisoen oor en oor herhaal met dieselfde ywer en entoesiasme. Die Rooivink se taak is om te bou en te vermenigvuldig. ‘n Dissipel se taak is om te bou en te vermenigvuldig.
Bou soos die Rooivink en versorg met die liefde van Jesus. As dissipels kan ons maar net saai en water gee (bou) maar dit is die Heilige Gees wat laat groei. As dissipels bou ons met dieselfde krag wat Jesus uit die dood uit laat opstaan het. Daardie Krag woon binne in ons. Dit is die Krag wat ons die wedloop enduit sal laat hardloop.
Sou sy die keuse maak om die nes te verwerp, begin die mannetjie weer van vooraf bou, met dieselfde entoesiasme en ywer. Hy hou niks terug nie. Dit wil voorkom of daar nog ‘n groter dringendheid is om die nes te bou.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking