Dinsdag 23 Junie 2020

KAN MENSE JOU GLO?

KAN MENSE JOU GLO?
As christen - Afrikaner behoort dit vir jou ‘n eer te wees om die waarheid te praat en eerbaar te wees. Mense moet jou dus op jou woord kan neem en jou kan vertrou. Jy moet ook te alle tye opreg wees. 

Jy weet self dat ‘n vals noot op die klavier, of ‘n vals stem in die koor mens dadelik opval en heel waarskynlik vreeslik kan irriteer. Mense wat vals en nie eerlik is wat hulle doen nie, het dieselfde uitwerking op ‘n mens. 

In Spr. 4:18-27 praat due Spreuke-digter met sy seun oor opregtheid van hart. In vers 23 kom dit duidelik na vore hoe belangrik die hart vir die mens is. 

“Bewaar jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van due lewe.”

Jou hart is soos ‘n veilige plek waar alles bewaar word wat vir jou kosbaar en jou eie is, maar in jou hart kan jy ook allerhande vuilhede en boosheid bewaar. Iets waaroor die Bybel met ons praat is valsheid van hart. Daar is min dinge so afskuwelik soos valse vrienskap, valse woorde en valse liefde. Al hierdie valshede kom uit die hart van die mens.

Hoe lyk iemand wat vals is?
Hy/sy dra gewoonlik ‘n denkbeeldige masker. Dit beteken dat mens nie regtig weet wie die persoon is nie, want hy/sy is geveinsd, m.a.w skynheilig. Selfs Christene is dikwels gemasker. 

So ‘n persoon is dubbelhartig (sy/haar hart op meer as een plek) - ‘n tweegesig. 
Dit is iemand wat jy nie kan vertrou nie. Iemand wat ander mense maklik bedrieg. 

So ‘n persoon is gewoonlik ‘n lou Chtisten ( nie koud of warm nie.)

Wat leer die Bybel oor valsheid?
• Valsheid is vir die Here ‘n gruwel. Hy haat skyn vroomheid. 
Spr. 11:1 “n Valse weegskaal is vir die Here ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy behae.”

Spr. 20:23 “Twee soorte gewig is vir die Here ‘n gruwel, en ‘n valse weegskaal is nie goed nie.”

Spr. 12:22 “Valse lippe is vir die Here’n gruwel, maar Hy het ‘n behae in die wat getrou handel.”

Hierdie opregtheid en eerlikheid geld ook ten opsigte van die Afrikaner volk waaraan jy behoort en die skool of instansie wat jy verteenwoordig. Trek jy slegs voordeel uit om eie gewin of is jy hart en siel daarin?
Opregtheid is vir God ‘n baie belangrike vereiste. In Ps. 15 maak ons kennis met een van die sterkste riglyne wat God aan sy kinders stel waarvilgens ons moet lewe. Die Psalms vra daar:

“Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?

En die antwoord kom:
“Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek.”

Die ware kind van God is nie die een wat dit met sy mond loop en vertel nie, maar die een wat in sy eie hart dag na dag ‘n felle stryd voer teen die kwaad. 

Onthou ‘n vals snaar kan ‘n hele orkes laat vals klink.

WANNEER JY LEUENS VERTEL

WANNEER JY LEUENS VERTEL
In die verhouding met jou ouers, onderwysers, maats en ander mense is dit baie belangrik dat jy eerlik moet wees en eerbaar moet optree. Ongelukkig speel leuens en oneerlikheid oor die eeue heen reeds ‘n groot rol en is dit ‘n groot probleem. Ons moenie dink dat dit net ongelowige mense is wat lieg en bedrieg nie, nee, dit kom dikwels  ook onder Christene voor. Elkeen van ons het een of ander tyd in ons lewe al ‘n leuen vertel.

Eerlikheid is iets wat van kleins af aangeleer word. Jou ouers is gewoonlik die eerste mense wat vir jou geleer het dat dit nie mooi is om te jok nie, daarna het jy dit ook geleer op ander terreine soos die kerk en die skool gehoor. Ongelukkig is dit so dat die mens van nature geneig is tot leuens. Dit is dan ook hoekom daar so baie in die Bybel oor hierdie neiging vermaan word.

Soms is dit vir ‘n mens moeilik om die waarheid te vertel en dit verg moed om ronduit met die waarheid uit te kom, want jy kan dan weer by ander mense in die moeilikheid kom, of iemand in ‘n swak lig stel. Sommige van ons weet ook hoe pynlik dit is om op ‘n leuen betrap te word.

Hoe wonderlik is dit om te weet dat dit wat ek vandag aan my vriende, of wie ook al vertel het nie vanaand die oorsaak van skaamte en verleentheid sal wees as ek in my stiltetyd met God praat nie.

Hoe kosbaar is ‘n mens op wie jy kan vertrou, omdat jy hom altyd kan glo!
Die geheim om met jou hele hart die waarheid te praat, is om veranker te wees in die geloof in Jesus Christus wat gesê het: 
Joh. 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe...”

‘n Leuen is ‘n opsetlike onwaarheid of valsheid. ‘n Leuenaar is dus iemand wat opsetlik lieg of onwaarhede vertel.

Sielkundiges onderskei tussen 10 verskillende tipes leuens:

•Leuens om aandag te trek
Jy ken dalk kinders in jou skool of omgewing wat leuens vertel om aandag te kry. So ‘n persoon wil hê iemand moet vir hom luister en dan vertel hy/sy soms ‘n vreeslike wolhaarstorie, net om ander te beïndruk of dat iemand hom/haar moet jammer kry.

•Nabootsende leuens
Dit kom dikwels onder tieners voor waar ‘n persoon sal vertel hoe hy iemand op sy plek gesit het. Sulke persone boots graag ander mense se sêgoed na.

• Oordrywings-leuens
Dit is ‘n leuen wat op die waarheid gebaseer is, maar waar die waarheid oordryf word, bv. wanneer iemand vertel dat hy ure langs die pad moes sit en wag, terwyl dit net ‘n halfuur was.

• Die sogenaamde “wit” leuens
Dit is leuens wat dikwels uit lojaliteit vertel word. Jy wil nie heeltemal eerlik met iemand wees, of sy/haar gevoelens seermaak nie en vertel dus ‘n leuen.

• Verdedigings-Leuens
Dit is die tipe leuens wat Sara (Abraham se vrou) vertel het. 
Mense wat bang is vir straf, of vir ander gevolge van hul dade, vertel dikwels hierdie tipe leuens. Kinders sê dikwels “Ek het my boek by die huis vergeet” in plaas van te erken dat hy/sy nie die huiswerk gedoen het nie. “Ek het nie van die huiswerk geweet nie” in plaas van “Ek het vergeet”.

•Kompenserende leuens
Mense vertel soms leuns om hul eie tekortkominge te verberg bv.
as ‘n kleinerige outjie by ‘n nuwe skool kom en vertel dat hy ‘n bokskampioen is, of dat sy pa ‘n Springbokrugbyspeler is. Sulke kinders is ook geneig om antwoorde te gee wat hulle dink grootmense wil hoor, nie wat noodwendig die waarheid is nie.

• Fantasie-leuens
Dit is ‘n tipe leuen wat dikwels by klein kinders voorkom, bv. wanneer hy/sy vertel hulle ‘n groot hond by die huis het, maar daar is geen hond op hulle werf nie.

Al sewe bogenoemde soorte leuns is gewoonlik nie doelbewuste poging om te mislei nie en doen dus nie veel skade aan die medemense nie, maar dit doen tog die verteller skade. Mense gaan jou nie maklik weer glo nie en jy kan bekend staan as iemand wat oordryf of lieg. Maats kan met jou begin gek skeer en dit veroorsaak uiteindelik dat hulle jou eenkant toe skuif of jou verneder. Jou selfbeeld kry dan gewoonlik so ‘n knou dat jy nog erger pogings aanwend om aandag te trek en dan eindig dit onaangenaam.

Maandag 22 Junie 2020

WIE IS GOD?

WIE IS GOD?
Vir ons Christene is daar net een God. Ons stel dit met vaste oortuiging en geen vrees vir teenspraak deur die heiden of die ongelowige nie. Ons glo, en vir ons is dit dieselfde as om te weet, dat Hy die hemel en die aarde geskape het en dit van dag tot dag onderhou. 

Ons glo dat God die ewige en enigste God en Skepper van alle dinge is. Hy het alles uit niks geskape en niemand kan dit nadoen nie. Dit is so omdat hierdie Skapper-God almagtig is, alle wysheid besit en goed en alomteenwoordig is.

Deurt. 6:4 “Hoor Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.”

Ons lees in Joh. 1:3 dat Hy die Skepper van alle dinge, en daarom ook van die mens is.
“Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”

Ons kan God nie sien nie, want Hy is nie sigbaar vir die werklike oog nie. Hy is ook nie aan ‘n plek gebonde nie. Hy kan deur sy Gees oral besig wees om sy wil te laat geskied en daarom is Hy die bron van alle dinge wat op hierdie wêreld gebeur. Ons is dus afhanklik van God. Sonder God is ons nie ten volle mens nie. 

Hierdie God is die Majesteitlike, die Gans Andere, die Almagtige Skepper van hemel en aarde, ver bokant alles en almal verhewe. Due wonderlikste van alles is: Hy is nie ‘n God wat ver van ons is nie. Hy is by ons. Hy het deur Jesus Christus by ons gekom en deur die Heilige Gees in ons kom woon. 

Nog’n wonderlike voorreg en absolute genade is dat ons tot Hom kan bid en Hy hoor en verhoor ons gebede. Wanneer jy vir Hom vra om jou te help met jou skoolwerk, met krag en wysheid, wanneer jy in die nood is, om jou gesond te maak, ens. Sal Hy dit vir jou gee as Hy dink dat dit die beste vir jou is. 

Die voorwaarde is dat jy moet glo en sy Seun Jesus Christus as jou Verlosser en Saligmaker moet aanvaar. Al is Hy so groot en magtig, sal Hy jou nooit verlaat nie, want Hy is lief vir jou, want Hy is ‘n God van liefde.

VRAE:
1. Gee ‘n verwysing uit die Bybel dat God die enigste God is.

2. Skryf minstens 10 einskappe van God neer en verduidelik wat elke einskap beteken.

3. Watter voorwaarde word gestel vir jou geloof in God?

4. Gee ‘n aanhaling uit die Nuwe Testament wat God as Skepper beskryf.

Maandag 23 Desember 2019

GISTER IS VERBY EN MÔRE BESTAAN NOG NIE; MOENIE TE VEEL TYD DAAR SPANDEER NIE, DIT IS 'N MENSGEMAAKTE WÊRELD WAT NET IN JOU DENKE BESTAAN

GISTER IS VERBY EN MÔRE BESTAAN NOG NIE; MOENIE TE VEEL TYD DAAR SPANDEER NIE, DIT IS 'N MENSGEMAAKTE WÊRELD WAT NET IN JOU DENKE BESTAAN

Jesaja 43:18-19 "Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis".

Luister op audio by: https://soundcloud.com/user-137403630/gister-is-verby-en-more

Dit is seker die beste nuus wat ons in 'n lang tyd gehoor het, God sê dat jy geen ag moet slaan op wat voorheen gebeur het nie. Jy hoef nie meer deur jou verlede beÏnvloed te word nie, Jesus het die prys vir ons foute en tekortkominge betaal.

HY MAAK ELKE DAG IETS NUUTS, IETS VIR ONS OM TE BELEEF EN TE GENIET.

Vader het my opnuut herinner om Hom ons fokus te maak en nie ons verlede en selfs die toekoms nie.

Beide ons suksesse en mislukkings moet nie ons fokus wees nie, Hy moet want Hy het elke dag iets beter in gedagte vir ons.

Moenie dink dat almal "behalwe jy" perfek is en nie foute maak nie; ons natuurlike manier van dink wil ons gedurig met ander, wat meer as ons het, of “slimmer of mooier as ons is”, vergelyk en skep dan ‘n gevoel van “is ek regtig goed genoeg” of “mooi genoeg”, ryk genoeg ens.

Ons is nie gemaak om gemeet te word en alleen deur die lewe te gaan nie, GOD het ons geskep om saam met Hom te wandel en saam met Hom die lewe te geniet.

Jy is nie 'n mislukking of 'n teleurstelling vir God nie, Hy het Jesus gestuur om ons vry van sonde en die dood te maak sodat ons 'n helder verstand en verligte oë kan hê.

Dit is tyd om op te staan, jou skouers terug te trek en jou kop omhoog te hou, jy is 'n Seun/Dogter van die Allerhoogste God.

Ons moet so begin dink en so begin wees, God is my Vader, dit maak van my ‘n prins/prinses, ek is iemand wat soos Hy is want ek is uit Hom uit gebore (Johannes 1:12)

Onthou, die duiwel en sy magte sien en behandel jou soos jy jouself sien.

Moenie na jou verlede of in 'n spieël kyk om te sien wie jy is nie, gaan kyk in die Woord, die Woord reflekteer wie jy regtig is, dit reflekteer wie jy in Christus is.

Moet nooit gaan lê of moed opgee nie, as jy asem het beteken dit dat God by jou is, Hy is die een wat elke mens asem, lewe en alles gee. Handelinge 17:24:25 "Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.

Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee".

Omdat jy lewe en asem haal het jy alreeds baie wat God jou gee, ons asem en lewe is verniet en jy hoef niks te doen om dit te beleef nie.

Hy wil jou egter meer as net asem en lewe gegee, Hy wil jou alles gegee, alles wat jy nodig het om vervuld en gelukkig te wees.

Jy moet dit net in besit neem, dit wat jy nodig het om alles te verkry is in jou, Sy krag en wysheid is tot jou beskikking.

Onthou dat niks vir God onmoontlik is nie, om te dink dat jy nie gesond kan word nie, dat jou geliefdes nie gered kan word nie, dat jy nie  bevry kan word of uit jou finansiële verknorsing kan kom nie is om te sê dat iets vir God onmoontlik is.

As Hy die hemel en die aarde en elke dier, mens en plant geskape het, hoe groot kan jou probleme vir Hom wees.

Hy het Jona, Lasarus en Jesus uit die dood opgewek en kan jou in 'n oomblik verlig, verhoog, genees, bekragtig, verryk en wysheid en insig gee om berge te verskuif, gemeenskappe te verander en mense na Hom toe lei.

Daar is nie 'n klagstaat teen jou in die hemel nie, daar is niks neergeskryf wat sê jy is beperk en kan net dit of dat doen nie.

Jesus sê dat ons enige iets kan doen as ons net wil glo - Markus 11:23 "Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur — hy sal verkry net wat hy sê.

Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry”.

Jy kan jou lewe vandag verander deur net anders te begin praat en dink.

Hou op om dit wat in jou kop maal jou eie te maak, negatiewe gedagtes wat jou laat sleg voel, wat jou laat glo dat jy nie goed genoeg is nie, dat God genoeg van jou gehad het is alles net leuens, leuens wat deur die jare jou realiteit geword het.

Ek wil vandag vir jou sê dat Jesus Christus leef, ek moet vir jou sê dat jy die tempel is waar God wandel en dat dieselfde krag wat Jesus uit die dood uit opgewek het binne in jou is.

Jy voel dalk al vir jare geestelik dood en op ‘n plek waar jy nie hoop het nie of Sy stem kan hoor nie;  vandag is jou opstandingsdag, vandag is die dag wat jy moet uitroep, ek lewe omdat Jesus lewe, ek is vry omdat Hy my vrygemaak het, ek is 'n oorwinnaar omdat Hy 'n oorwinnaar is, Ek is gered omdat Hy my gered het.

Word wakker seun/dogter van God Christus skyn oor jou, Hy leef in jou en versterk jou.

Ek glo dat die beste tyd van jou lewe nog voorlê. 

Moenie fokus op hoe oud jy is en wat jy bereik het nie, die beste tyd om in Sy rus in te beweeg is "NOU", nou is die tyd om dankbaar te wees dat jy 'n middelaar het, iemand wat vir jou instaan, iemand wat sê: "Ek het jou mislukkings en tekortkominge op My geneem sodat jy NOU vry en gelukkig kan wees.

Maak Jesus Christus Here en Meester van jou lewe, vandag.

GEBED
Dankie Vader vir die nuwe lewe wat daar in Christus is, help ons om te dink en te wees soos wat U ons geskep het om te wees, U seuns en dogters.

SKRIFTE OM TE MEMORISEER
Jesaja 41:18-19, Handelinge 17:24:25, Markus 11:23

PERSOONLIKE VRAAG OM JOUSELF TE VRA EN TE ANTWOORD.
Wat gaan ek doen om te verseker dat ek nie op die verlede en toekoms fokus nie maar op waar ek NOU is, saam met Christus, in God in hemelse plekke (Kolossens 3:1-3)

Woensdag 06 Februarie 2019

U Woord is my hele lewe

U Woord is my hele lewe

Om U wil te doen, my God, is my een begeerte, U woord is my hele lewe. Psalm 40:9

Ons as kinders van God moet Sy woord bestudeer dag en nag. As ek en my beste vriende nooit met mekaar praat nie, mekaar min sien en nie tyd met mekaar deurbring nie, gaan ons nie weet wat in mekaar se lewens aangaan nie. Daarom moet ons ook tyd met God deurbring. Ons moet luister wat Sy planne vir ons lewe is en wat in Sy woord staan. As ons nie tyd met God deurbring nie, kan ons nie Sy stem hoor nie.

’n 2 -Minute oordenking is nie altyd genoeg nie. ‘n Mens kan mos nie met ’n kwart petroltenk Namibië toe ry nie. Ons moet propvol van God se woord wees, sodat ons deur die tawwe tye kan kom en die curveballs wat die lewe ons gooi, kan dodge. Daar is geen foute in God se woord nie en al die antwoorde vir al ons vrae lê daarin. Om tyd saam ons Vader deur te bring, is so nodig en recharge ons sodat ons die lewe voluit kan leef – net soos Hy wil hê ons moet.

My ma het altyd vir ons 3 kinders gebid vir ’n begeerte soos David s’n. Om U wil te doen, my God, is my een begeerte, U woord is my hele lewe. Psalm 40:9

U Woord is my hele lewe!

Uitdaging: Maak elke dag tyd vir God. Hy moet een van jou beste vriende wees met wie jy wil tyd deurbring om Hom beter te leer ken. Vat ’n tydjie tussen jou studies, voor jy gaan slaap of staan sommer ’n bietjie vroeër op. Los vir ’n slaggie jou selfoon en die Instagram en maak jou Bybel oop. God wag in afwagting vir ‘n tydjie saam met jou. Sy arms staan wawyd oop. Vir jou.

Gebed: Here, ek kom vanoggend na U toe en ek bid dat ek ook ‘n begeerte soos Dawid s’n kan hê. Ek vra dat U my sal help om my tyd goed te bestuur en om tyd te maak vir die belangrike dinge in die lewe – soos om tyd met U deur te bring. Amen

Shalom
Pietet

Jy mag maar glo wat God van jou sê!

Jy mag maar glo wat God van jou sê!

Jesaja 54:10

Berge kan verskuif word en heuwels kan verdwyn, maar my liefde vir jou sal nooit ophou nie. My ooreenkoms van vrede met jou sal nooit tot ’n einde kom nie. Dit is wat die Here sê wat soveel vir jou omgee.

Jou selfbeeld … Wat presies is dit? Niks anders as die beeld wat jy van jouself het nie.

Hoe jy lyk en hoe jy doen en hoe belangrik jy is … Maar nie net wat jyself daarvan dink nie, maar ook wat jy dink ander van jou dink! Maak dit sin?

So, wat ander mense van jou dink, kan ook beïnvloed hoe jy oor jouself dink.

Maar weet jy wat? As jy weet hoe God oor jou voel, sal dit minder belangrik raak wat ander mense van jou dink. En as jy glo wat in die Bybel staan oor God se gevoelens oor jou, sal jy dit regkry om nooit weer te min van jouself te dink nie, maak nie saak wat ander mense van jou sê nie.

O ja, om te veel te dink van jouself is ook nie goed nie. Maar as jy inge-plug is by God, sal jy ‘n gesonde selfbeeld kan ontwikkel. Jy sal dan kan glo dat jy iets vir iemand anders kan beteken en dat God jou kan gebruik om ook goed en nice te wees met ander mense rondom jou.

Jy mag maar glo wat God van jou sê!

Uitdaging: Vertrou dit wat in die Bybel staan oor God se gevoelens oor jou en tree só op dat ander kan sien jy het ‘n goeie en gesonde beeld van jouself.

Gebed: Here, dankie dat U my regtig liefhet en dat U baie vir my omgee, omdat U my gemaak het. Help my om nooit weer te dink ek is nie goed genoeg of belangrik genoeg nie. Amen.

Shalom
Pietet

Jy is baie meer werd as wat jy vir jouself in die spieël vertel

Jy is baie meer werd as wat jy vir jouself in die spieël vertel

Jeremia 1:4-6

4Die Here het vir my gesê: 5“Ek ken jou van altyd af. Van voor jou geboorte af het Ek jou gekies en aangestel om namens My met die nasies van die wêreld te praat.” 6Ek het geantwoord en gesê: “Nee, Here, ek kan nie goed praat nie en ek is gans en al te jonk vir dié belangrike taak.”

Hoeveel keer het jy al hierdie jaar vir jouself gesê dat jy nie goed genoeg is nie? Ons raak soms so bang om groot dinge te doen, want ons sien altyd eers ons foute raak. Toe God vir Jeremia vertel het dat hy groot dinge gaan doen, kon hy dit nie glo nie. Al wat hy gesien het, was iemand wat nie goed genoeg was nie.

Soms sien ek ook net in die spieël iemand wat nie goed genoeg is nie. Ons is experts daarin. Baie kere sien ons die dinge raak wat nie reg is nie en glo ons sal net waarde hê as ons meer perfek kan wees. Maar weet jy wat? God ken jou al soveel langer as wat jy jouself ken. Hy ken jou beter as wat jy jouself ken.

As God sê jy het waarde, kan jy Hom maar glo. As God jou roep om groot dinge te doen in jou skool en in jou gemeenskap, kan jy glo dat Hy vertrou dat jy dit kan doen.

Jy is baie meer werd as wat jy vir jouself in die spieël vertel.

Gebed: Here, ek het selfbeeld issues. Ek wens ek kon raaksien wat U in my raaksien. Help my, asseblief, om U te glo wanneer U sê ek het waarde. Help my om raak te sien dat U my met baie liefde uniek geskep het op hierdie aarde. … Amen.

Uitdaging: Soms sukkel ons met ons selfbeeld, omdat ons net die slegte dinge glo wat ander van ons sê. Luister ‘n bietjie deur die week – jy sal verbaas wees hoeveel goeie dinge mense van jou sê as jy net ‘n bietjie aandag gee. Sê dankie wanneer iemand die waarde in jou raaksien.

Shalom
Pieter

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...