Ds.Jannie - as die kers kon praat
Die wit kers wat op die strand uitgespoel het laat my wonder
Maandag
JESAJA 60:1 (AFR83)
Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.
Ons kuier vir ʼn paar dae by die see en dit is ʼn groot voorreg. Die grootsheid van die oseaan tref altyd weer en weer en ʼn mens word herinner aan die skeppingswoorde van God toe Hy die waters op een plek versamel en die droë aarde sigbaar geword het.
Gen.1
9God het verder gegaan en gesê: “Laat al die water onder die hemelruim op een plek bymekaarkom sodat daar ook droë land sal wees.” En dit was so.
10God het die droë land “aarde” genoem en die plek waar al die water bymekaargekom het, “see”. God het gesien dat dit wat Hy geskep het, goed was.
Die skuldig voel omdat ʼn mens agter die lekker aan eet as ʼn mens met vakansie is, word ietwat verdoof as ek ʼn entjie op die strand gaan draf. Dit insigself is genade omdat ʼn mens gesond moet wees om dit te kan doen. Watter premie kan ʼn mens ooit op gesondheid stel?
So met die draf saam sien ek ʼn spierwit ongebruikte kers wat op die strand uitgespoel het. Sommer die doodgewone huis kers, die goedkoop kers sonder spesiale reukmiddels of ʼn besondere vorm. Die lang kers met ʼn stuitige lont bo op.
Die seewater en sand het dit ʼn bietjie grof gelaat maar die kers wink my nader en sit my aan wonder.
My gedagtes neem ʼn verbeeldingsvlug teen die agtergrond van die vernietigende skade en gevolge van die heel onlangse stormweer en oormaat reën wat dele van KZN getref het.
Ek verbeel my dat ek die kers op die tafel sien lê in een van die sinkplaathuisies rondom Durban. Ek hoor kinders speel en musiek van Afrika drom. Dit word gaandeweg verdoof namate die weer al swaarder word.
Blitse verlig die omgewing onheilspellend en in die verte is daar ʼn gedruis, moeilik om te identifiseer. Wat die inwoners nie weet nie is dat ʼn meesleurende stroom op pad is wat geen uitsondering maak nie. Geen meriete, stand of prestasie kan aangebied word dat die stroom ander pad kies nie.
Reënwater begin genadeloos deur die reeds stukkende sinkplaatdak stroom totdat die water pad maak deur die enigste deur wat die blyplekkie het. Modderwater skommel in die huisie soos in ʼn wasmasjien totdat die drukking te groot word en dit die vier sinkplaat mure omstoot.
Wie ook al daar woon word uitmekaar geruk terwyl elkeen deur die stroom weggevoer word na ʼn onbekende bestemming. Desperate hande gryp na wat ook al stabiliteit kan bied. Hier en daar bied ʼn drywende boomstomp, stuk meublement of ʼn leë houer uitkoms.
My gedagtes wil nie verder nie. Ek is terug by die kers en sy storie.
Terug by ons woonplekkie maak die die kers staan in ʼn leë plastiek houertjie. Ek steek die kers in ʼn oomblik van gewydheid aan terwyl ek treur, saamtreur met mense wie se geliefdes nooit opgespoor sal word nie.
Die kers begin sagkens sing –
This little light of mine, I`m gonna make it shine.
Make it shine, make it shine, it shine.
Weliswaar nie vir die plekkie en die mense vir wie dit bedoel was nie maar vir my wat oorvloedige rede het tot dankbaarheid.
Ons harte gaan uit na die honderde mense wat omgekom het, die enorme materiële verlies en die hartseer en ontwrigting wat vir nog lank gevoel sal word.