Sondag 03 Junie 2018

Liefde soek en doen

Liefde soek en doen

As ek vir jou vra om God in een woord op te som, wat sal dit wees?
Vir my is daar net een word: Liefde. God is liefde. God borrel oor van liefde. God kan Homself nie keer om liefde uit te deel aan almal nie. Sy liefde is so groot vir elke verlore mens dat Hy bereid was om sy Seun op te offer sodat niemand verlore hoef te gaan as hulle in Hom glo nie. ’n Groter daad en bewys van iemand se liefde is daar nie.

Ons hele verhouding met God is gebou op ’n vaste fondament van liefde. God omvou ons met liefde. Die geheim is egter om die liefde nie vir onsself te hou nie, maar uit te deel aan die mense rondom ons. Aan ons mede- Christenbroer en -susters, maar ook aan elke ander mens
.
Dis vir my maklik om vir ander mede-kinders van God liefde te gee, want ons is ganse van ’n eenderse dam. Dis egter nie altyd so maklik om onbaatsugtige liefde uit te deel aan mense van ander damme nie.
Op ons eie sal ons dit nie regkry nie. Ons het versterkings nodig. Daarom moet ons saam met Paulus bid: 12My gebed is dat die Here julle baie lief vir mekaar sal maak. En ook vir ander mense. Mag julle liefde net sterker en sterker word. Julle moet net so lief wees vir ander as wat ek nou vir julle is.
Ons moet ons oë oopmaak en soek waar daar plekke is waar ons God se liefde kan saai. Soos die tannie in Ansie se lewe. Ansie (skuilnaam) vertel dat hulle as jong getroudes baie swaar gekry het:
My man het ’n baie klein salaris verdien en ons kon bitter min dinge bekostig. Ons kon nie eers kos koop nie.

Een middag toe Hennie tussen 1 en 2 huistoe kom, kom die een tannie wat saam met hom werk saam. Sy wou my kom ontmoet, omdat ons nog nuut in die omgewing was. Sy het gesien dat ons saam met die baba Pronutro geëet het, want dit was al wat ons kon bekostig.

Die tannie het op ‘n plaas buite die dorp gebly. Die volgende oggend het sy ‘n mandjie vol kos gebring. Ek sal dit nooit vergeet nie. Die Here het my gebede verhoor en die kos vir ons gestuur.

Dis ’n eenvoudige storie, maar wat ’n groot impak in mense wat swaarkry se lewe gehad het. Dit is ’n liefdestaak. Die tannie het nie net gaan kuier nie. Sy het ook haar oë oopgemaak en altyd ’n plekkie gesoek om liefde uit te leef. Daarom sien sy die nood raak en doen iets daaraan.

Mag ons ook plekkies soek waar ons Jesus se liefde kan uitleef.
Kom ons bid en vra vir God om liefde sigbaar te maak tussen ons. Maar meer nog – dat God se liefde sigbaar sal raak deur ons dade teenoor ander mense, die mense saam met wie ons werk en speel en ook die vreemdeling wat so nou en dan oor ons pad gestap kom.

Teks
1 Tessalonisense 3:11-13

Om oor na te dink
Het jy ander lief?
Hoe sien hulle dit raak?
Waar kan jy vandag liefde gaan doen?

Gebed
Here, U is vir ons so ’n groot voorbeeld van liefde uitleef. Ek wil ook van al die baie liefde wat ek van U ontvang vir ander gee. Dit is egter nie altyd maklik nie. Mag ek meer leer van U, sodat ek werklik ’n verskil in ander se lewens kan maak. Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...