God is “Ek is”, nie “Wat as?” nie
Filippense 4:6-7
6Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. 7Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.
Het jy al langs ‘n groot dam of ‘n rivier in die natuur gaan sit? Is dit nie wonderlik hoe kalmerend dit kan wees nie? God se vrede is selfs beter as om langs ‘n rivier stil te raak.
God is altyd by ons, daarom kan ons enige tyd bid. As ons met vreugde lewe en onthou hoe God ons liefhet, sal God se vrede ons harte en ons gedagtes vol maak. Die moeilikheid kom wanneer ons God uit die prentjie probeer neem.
God is nie ‘n “Wat as?” God nie; Hy is ‘n “Ek is” God. Ons angs, stres en bekommernisse begin by “Wat as?” Maar ons moet seker wees van God se liefde en voorsiening vir ons (want dit is deel van wie Hy is). Dan kan ons volle vrede hê, omdat ons weet dat niks buite God se hande is nie.
God is “Ek is”, nie “Wat as?” nie.
Gebed: Vader God, dankie dat U altyd dieselfde is. Dankie dat ek nie die hele dag hoef te wonder “Wat as?” nie, maar dat ek U vrede kan geniet, omdat ek weet U is naby… Amen.
Uitdaging: Is daar iets waarvoor jy dankbaar kan wees? Begin vandag en maak ‘n gewoonte om vir God dankie te sê vir die wonderlike dinge wat Hy in jou lewe doen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking