Voorberei vir die swaar
Vanaf die begin van die skryfstukke oor 1 Tessalonisense is die woord “swaar” al meer as 21 keer gebruik. Swaarkry was ’n werklikheid in die nuwe Christene se lewens. En ons het dit al ’n paar keer gesê: As jy erns maak met die dinge van God, gaan daar opdraendes kom.
Dit gaan nie altyd voor die wind nie. Daar gaan tye kom wanneer jy net nie meer kan nie. Tye wanneer jy voel asof jy uit die bus wil klim, want te erg is darem te erg. Daarom weer die bevestiging van Paulus aan die mense van Tessalonika: 3Ek wil nie hê julle moet ophou glo nie, veral nie omdat julle nou begin ly vir julle geloof nie. Onthou, die Here het gesê dat ons vervolg sal word omdat ons glo.
Dit is deel van die pakket as jy in God glo. Jy sal ook jou kruis moet dra, soos Jesus. Wanneer jy dus verstaan dat die opdraendes soms oor jou pad gaan kom, kan jy mos maar regmaak daarvoor, of hoe? Die volwassenheid van ons Christenskap is duidelik wanneer ons nie elke keer onsself boeglam skrik wanneer ’n stuk swaar ons tref en ons nie al ons speelgoed uit die kot wil gooi nie.
Op ’n manier moet ons swaarkry verwag en wanneer dit dan die dag opdaag, moet ons dit tegemoet gaan met ’n wil om dit positief te hanteer. Tog is daar baie van die swaar wat aanvanklik te moeilik lyk om te hanteer, maar hier moet ons juis ons geloof in God behou en weet en glo dat ons met Sy hulp daardeur sal kom. So ’n houding haal nie die aanvanklike skrik en seer weg nie, maar plaas ’n mens net gouer op die pad van genesing.
Eintlik moet ons so voorbereid wees op die swaar wat kan kom, dat as dit die dag aan ons deur kom klop, ons sal sê ons is gereed om dit te hanteer.
Die realiteit is dat ’n mens maar bang bly vir swaar en dit is nooit maklik nie, maak nie saak hoe voorbereid jy daarop is nie. Wanneer die swaar kom, skop ons maar die meeste van die kere daarteen en vra heel waarskynlik: Waarom God? Waarom nou juis weer ek, Here? Maar selfs tussen die vrae deur is God steeds aan jou sy.
Dit is belangrik om nooit die groeigeleentheid binne elke swaar te mis nie. Dit is in die swaar tye en die moeilike opdraendes waar ons sterker word. Moenie die geleentheid laat verbyglip omdat jy te besig is om uit te vind hoekom jy nou weer die middelpunt van die swaar is nie. Partymaal sal sommige van die vrae onbeantwoord bly sodat jy kan leer en kan groei.
Swaar tye sal daar wees. Dit is deel van die pakkie, maar met behulp van God se Gees kan die negatiewe omgekeer word in ’n positiewe.
Ps. Min het ek geweet dat ek ’n paar uur nadat ek die stuk geskryf het deur ’n vriend gebel sou word om sy 4 maande oue baba wat gisteraand dood is, te begrawe. Hulle het ’n 12-jarige dogtertjie en na 4 miskrame het hulle alle hoop opgegee vir nog ’n kleintjie.
Dit was ’n groot verrassing toe hulle later agterkom sy is swanger. Die twee sonars het gewys dat Elizabeth op pad is, maar met die geboorte moes hulle sien dat dit Christiaan is. Die seun waarvoor hulle so lank gebid het. Hulle opgewondenheid het geen perke geken nie!
Vier maande later word Christiaan begrawe…
Mag die swaar in jou lewe nooit jou geloof steel nie…
Teks
1 Tessalonisense 3:1-5
Om oor na te dink
Sien jy kans vir die swaar in jou pad?
Waar is dit seer?
Hoe sterk is jou geloof?
Gebed
Vader, U sê in U woord dat die regverdige nooit sal wankel nie. Help my, Here, om nie te wankel wanneer dit swaar gaan nie. Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking