Reps gesoek
Tydens my jare in die besigheidswêreld was een van die moeilikste aanstellings dié van reps. Dis nou die mense wat die wêreld moet ingaan met jou produk onder die arm. Hulle moet baie opgewonde wees oor jou produk sodat hulle ander net so opgewonde kan maak en hulle uiteindelik sover kan kry om jou produk aan te koop.
Dit is van wesenlike belang dat die rep in die produk moet glo wat hy of sy moet verkoop, want as hulle nie met hart en siel daarin glo nie, kan hulle nie opgewonde daaroor wees nie en sal dit maar erg moeilik gaan om die produkte aan iemand anders te verkoop.
As jy mooi daaroor dink, soek jy eintlik ’n tweede ou soos jy, want wie anders is meer opgewonde oor jou produk as jyself? Ek onthou altyd hoe opgewonde ek oor ons produkte geword het. As iemand my net iets sou vra, vertel ek met graagte en in detail die hele storie oor hoe die produk ontstaan het, hoekom dit baie beter is as die naaste teenstander s’n, hoeveel pryse en sertifikate al ingepalm is en as die aanhoorder my kans gee, vertel ek sommer die storie van my vinger wat ek in die duur Duitse masjien gedruk en byna heeltemal verloor het.
’n Mens soek vêr om iemand te kry wat jou produkte, jou besigheid en jou mense so op die hart dra soos jyself.
Paulus was op soek na só iemand. Weens onvoorsiene omstandighede kon hy nie na die mense van Tessalonika gaan nie. Sy hart het gebrand om weer by die jong Christene uit te kom. Dit het baie swaar met hulle gegaan en hy het geweet dat hulle iemand nodig het om hulle te bemoedig en by te staan. Maak nie saak na watter kant toe hy gesoek het nie. Daar was net nêrens ’n tydjie waar hy gou na hulle kon wegglip nie.
In die soeke van Paulus om iemand te kry om hom daar by die mense te gaan verteenwoordig, m.a.w. sy rep te wees, pop Timoteus se naam in sy kop op. Paulus sê: 2Toe ek in Atene gepreek het, het ek later so baie na julle verlang dat ek op die ou end besluit het om Timoteus na julle toe te stuur. Hy is ’n dierbare broer van ons almal. Hy staan saam met my in God se diens en help my om die goeie nuus oor Christus oral bekend te maak.
Ja! Kom ons stuur vir Timoteus. Hy dra God se dinge op sy hart. Net soos Paulus brand hy om God se verlossende boodskap by die mense uit te bring. Hy kan dit nie verduur dat mense reguit op pad is na die hel terwyl Jesus se verlossende boodskap gratis vir almal beskikbaar is nie.
Timoteus is vir seker die beste rep om die werk te gaan doen. Timoteus word nie gelok deur ’n groot salaris met baie byvoordele nie. Vir hom is dit nie nodig om groot kommissies te verdien nie en nog minder moet daar check point Charlies ingesit word om seker te maak dat hy nie heeldag in koffiewinkels rondlê nie. Niks kan hom keer om die opdrag namens Paulus uit te voer nie.
En vandag het niks verander nie. Daar is steeds hordes mense wat die goeie nuus van Christus só nodig het. Daar is hordes wat toe oë op die afgrond van die dood afpyl.
In God se wêreld is daar vandag nog net so ’n groot aanvraag na reps. Daar word nog net so hard gesoek na mense met ’n hart vir verlorenes wat namens Jesus na verlore mense kan gaan met die enigste reddende produk ooit. Die beste van alles is dat jy nie ’n sent daarvoor hoef te vra nie. Dis alles gratis.
Is jy bereid om soos Timoteus jou hand op te steek en te sê: Hier is ek! Ek sal God se rep in die wêreld wees?
Teks
1 Tessalonisense 3:1-5
Om oor na te dink
Is jy bereid om God se rep in die wêreld te wees?
Waar kan jy begin?
Gebed
Ons Vader, ek weet al van lank terug dat U met my praat oor dié pos wat gevul moet word. Ek weet dat U my daarvoor roep, maar ek moet bieg ek is baie bang daarvoor. Ek weet nie wat om te sê nie. Wys my hoe en waar ek moet gaan. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking