Life happens( Gedeeltes geleen)
Life happens die heeltyd en dis nie altyd ligte musiek nie. As ons terugkyk oor ons lewe, het elkeen sy eie storie om te vertel. Stories waar dit soms rof gegaan het. Stories waar ons amper of dalk heeltemal die pad byster geraak het.
Life happens. Baie keer tref die swaar ons pad deur iemand anders wat ’n dom besluit geneem het. Soos my dogter se vriendin wat met haar splinternuwe motor wat nog nie eens nommerplate het nie, rustig ry om vir haar te kom kuier. ’n Ander ou besluit om voor haar in te ry en haar kar word afgeskryf. Die ou ontken dis sy skuld.
Life happens. Of dalk is dit jy wat in die spreekkamer wag vir die dokter om sy sê te kom sê oor die uitslag van die toetse en jy het net ’n voorgevoel dit gaan nie goed wees nie.
Life happens. ’n Vriend kom sit by my. Sy trane hou nie op met loop nie. Sy vrou het hom gedagvaar vir ’n egskeiding. Hy is stukkend. Hy was nie die een wat rondgeloop het nie. Nou word hy gedagvaar en moet die helfte van al die skuld dra. Sy lewe is verby en hy wonder kliphard of ’n boom of paal of brug nie die antwoord vir hom is nie.
Life happens ook vir Mari (skuilnaam):
Later vanoggend het ek ’n CCMA saak van ’n werker wat my kar gesteel het, die kar afgeskryf het en my nou maande later CCMA toe vat omdat ek nie sy werk vir hom wil teruggee nie. Ek is kwaad! Baie kwaad!
Hy het op my erf gebly saam met my en my gesin. Ek het hom vertrou. Hy het eendag probeer selfmoord pleeg. My man het hom na ’n privaat hospitaal geneem waar ons vir die beste sorg betaal het. Weke later steel hy my kar en nou vat hy my hof toe omdat ek nie sy werk vir hom wil teruggee nie. Ek sukkel met vergifnis.
Ek besef maar net weer dat ons nie op ons eie deur die lewe kan gaan nie. Selfs al glo ons, het ons iemand anders nodig om ons kop nou en dan bo die water te hou dat ons nie versuip nie. Of anders gestel: Om ons te help om nie ons geloof langs die pad te verloor nie. So maklik kom steel die realiteit van life happens ons geloof en eintlik is dit heeltemal verstaanbaar.
Daarom kan ons nie anders as om mense rondom ons te hê wat ons moet help om op die pad te bly nie. Vriende wat net weer ons kop optel om te wys dat God tog wel nog bestaan wanneer dit voel asof die storms van die lewe ons vasdruk. Soos Paulus gemaak het met die ouens van Tessalonika: 2… Ek het Timoteus na julle toe gestuur om julle geloof sterk te maak en om julle aan te moedig om voluit op die Here se pad te bly stap.
God plaas mense rondom ons om ons moed in te praat, om ons te help om deur die krisisse in ons lewe te beur. Dit bly egter ons verantwoordelikheid om hulle in ons lewe toe te laat. God het reeds planne in plek om ons deur die krisisse van die lewe te help. Die vraag is net of ons bereid is om hulle hand te neem?
Maar meer nog – God wil ook vir óns gebruik om ander te help om te bly glo en ander deur life happens te sleep. Jip, dis ons elkeen se roeping om êrens langs die pad ’n ander een se hand te neem en op te help. Ek hoop en bid dat God se plan B ingeskop het daar waar ek nie stilgestaan het by ’n ander se seer nie.
En ek bid vir krag en ek hou my oë oop sodat ek nooit weer die kans sal mis om ander te help om vas te byt in hulle geloof en aan te moedig om deur life happens onwrikbaar aan God vas te klou nie.
Teks
1 Tessalonisense 3:1-5
Om oor na te dink
Is jou geloof soms dun?
Is daar iemand wat jou kan deurtrek?
Is jy altyd daar vir ander?
Gebed
Vader, mag ek tog nooit my geloof in U verloor nie. Mag ek altyd ruimte maak vir die mense wat U in my pad sit en hulle toelaat om my deur die storms te sleep, maar ook dat ek dié wat ék moet sleep, nie sal mis nie. Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking