Bereid om te ly?
Die tyd ná Jesus het hordes mense tot bekering gekom. Tog was dit nie maklik nie. 14…net soos hulle daar in Judea onder die Jode moes ly as gevolg van hulle geloof, ly julle nou ook onder julle eie volksgenote. Om vir Jesus te kies, was nie die makliker roete nie. Inteendeel. Sommige moes met hulle lewe daarvoor betaal.
Hier waar ons woon is dit darem nie so erg nie. Ons lewens is nie in gevaar omdat ons in Jesus glo nie. Tog raak dit al hoe moeiliker om op te staan vir dit waarin ons glo. Die wêreld is nie meer ’n Jesus-vriendelike wêreld nie. Jesus-kinders is besig om uit te sterf, omdat mense net nie meer wil opstaan vir dit waarin hulle glo nie.
Dalk het ons bang geword om op te staan vir Jesus of dalk is ons deesdae so akkommoderend en wil nie ander ontstel nie dat ons eerder stilbly.
Ek kry gereeld foto’s van Christene wat kop onderstebo kniel by ’n soldaat van ’n ekstreme groep met ’n byl in die hand. Ek wonder dan baie hard wat ek sal maak as ek in so ’n situasie sou kom. Sal ek my geloof prysgee of sal ek bereid wees dat hulle my kop afkap vir my geloof in die lewende God?
Maar dalk moet ons nie so ’n ekstreme voorbeeld gebruik nie. Kom ons kyk eerder hier in ons eie omgewing.
Is ek bereid om my mond by die werk oop te maak oor onreg en ’n kans staan om dalk my werk te verloor? Is ek bereid om by die huis Jesus se woorde te bring en dalk onder ’n stortvloed geskel van ander deur te loop? Is ek bereid om my vriend aan te praat omdat hy of sy God se naam ydellik gebruik en die kans staan om ons vriendskap te verloor?
Baie van ons se geloof het so afgewater geword dat ons dit onder die kleinste stukkie druk sal prysgee. Eintlik doen ons dit reeds, want ons bly orals stil oor onreg.
Dit is vir my interessant, nee, eintlik skokkend om te sien hoe die lewe so maklik tussen my en God inskuif. As ek my weer kom kry, doen ek soos die wêreld sê en vergeet ek van God se dinge. Ek vergeet of raak lui om vroeg op te staan en tyd met God deur te bring. Met die effek dat God en Sy dinge nie meer vir my belangrik is nie.
Later is ek ook nie meer bereid om vir God te ly en Sy dinge eerste in die wêreld te stel nie.
Keer op keer moet ek weer ’n besluit neem om die wekker te stel en vroeër op te staan vir stiltetyd. Dis hier waar God kans kry om my te lei en sterk te maak vir die wêreld daar buite. Dan kan ek weer opstaan vir Sy dinge en ja, dan is ek bereid om vir Hom te ly, want dan weet ek waaroor dit regtig gaan.
Mag dit waar word vir jou ook. Mag jou verhouding met God net sterker word, sodat jy nie twee keer sal dink om op te offer vir Hom nie.
Teks
1 Tessalonisense 2:13-16
Om oor na te dink
Is jy bereid om vir God se dinge in die wêreld op te staan?
Sal jy ter wille van God ly?
Hoe gesond is jou verhouding met God?
Gebed
Ons Vader, ek besef dat ek nie gereed is om vir U alles op te gee nie. Ek weet dat die wêreld en die geraas daar buite te veel in my is. Ek wil hê dat U my moet wys hoe ek moet lewe. Ek wil ook eendag sê: Vir my God sal ek sterf. Amen.
Shalom
Pieter
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking