Dinsdag 23 Junie 2020

JOU CHRISTELIKE LEWENSBESKOUING AS BEELDDRAER VAN GOD

JOU CHRISTELIKE LEWENSBESKOUING AS BEELDDRAER VAN GOD

As jy sê dat jy ‘nChristelike lewensbeskouing huldig, beteken dit dat jy alles beskou vanuit Christelike perspektief. Christus speel dan die belangrikste rol in jou lewe. ‘n Christelike lewensbeskouing is hoe ‘n Christen homself en die hele lewe sien en hoe hy sy siening toepas in die lewe. 

Om ‘n Christen te wees beteken dat jy jou “eie ek” moet kruisig en dat Christus in jou moet lewe. Die Here Jesus stel dit so in Matt. 16:24-25

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.”

Daarom is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. 
As Hy in my leef, dan leef ek soos Hy wil hê ek moet lewe. As Christus in jou leef, is die lewe anders. Jy sien die wêreld anders, want jou oë is deur Christus genees. Dan leef en werk jy om dit wat jy sien wat verkeerd is, te verander, sodat alles beantwoord aan die wil van Christus. 

Ons leer ken die wil van Christus uit sy Woord, die Bybel. Die belangrikste beginsel is vervat in die wet van die Here. 

Matt. 22:37-40 “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Hierdie lewensbeginsel geld vir elke Christen, ryk of arm, geleerd of ongeleerd. Dit geld ook onder elke lewensomstandigheid. In die kuns, die wetenskap, jou skoollewe, jou sport, jou sedelike lewe, oral, moet die Christelike beginsels geld. 

Christus leef in jou, so alles wat jy doen en sê moet tot sy eer geskied.
Die liefde tot God is ‘n Christen se eerste lewensbeginsel. Is dit ook jou eerste lewensbeginsel? Daarom soek ‘n Christen ook in alles wat hy doen of sê die beswil van sy medemens, want hy het hom lief soos hu homself liefhet.

‘n Christen moet dus oral en altyd ‘n getuie vir Christus wees. 
In Matt 15:16 lees ons:
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

‘n Christen leef uit genade. Dit is nie ons goedheid of werke wat ons red nie, maar slegs die genade van ons Here Jesus Christus. 

Omdat jy beelddraer van God is, moet jy eerbied vir jouself hê:
• Jou liggaam moet vir jou heilig wees, want God het dit geskape na sy ewebeeld. Jy mag dus nooit jou liggaam misbruik of verneder deur verkeerde dade nie. Jou liggaam is die lewende tempel van die Heilige Gees en moet aan God gewy word.

1 Kor. 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggame ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? 
:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

• Jou woorde kry nuwe waarde, want God weet wat dit sal wees lank voordat jy dit uitspreek. Jy mag nie in die teenwoordigheid van God onreine of onwelvoeglike dinge sê nie. Dink maar daaraan hoe lelik praat jongmense soms onder mekaar. Hierdie beginsel geld vir die speelterrein, die sportveld, klaskamer, jou huis, oral waar jy beweeg. 

• Jy moet jou gedagtes suiwer hou. Die Here ken jou gedagtes. Daar hoort nie lelike dinge in jou gedagtes nie. 

God weet alles van jou en weet dus van jou verkeerde dade nog voor jy dit doen. Omdat jy Hom eerbiedig, moet jy ook eerbied vir jouself hê en moet jy alles wat deel van jou menswees uitmaak, met eerbied bejeën. Jy moet elke dag groei in waarde vir jouself omdat jy elke dag meer en meer bewus raak van die teenwoordigheid van jou Hemelse Vader in jou lewe.

VRAE:
1. Wat beteken dit in die praktyk om te sê dat jy ‘n Christelike lewensbeskouing huldig?

2. Waaruit leer ons die wil van Christus ken?

3. Watter baie belangrike Chrislike beginsel is vervat in die wet van die Here?

4. ‘n Christen leef uit ............

5. Hoekom moet jy eerbied vir jou liggaam hê?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...