Sondag 08 April 2018

Tjommies het mekaar nodig

Tjommies het mekaar nodig

Hier aan die einde van sy brief aan die mense van Kolosse gee Paulus ons ’n kykie in sy ondersteuningsraamwerk. Paulus dra groete oor namens sy vriende: Aristargos, Markus, Jesus (ook Justus genoem), Epafras, Lukas, Demas en natuurlik Tigikus en Onesimus by wie ons in die vorige twee stukke reeds stilgestaan het.

Ek besef maar net weer een ding en dit is dat ons nie alleen die pad in die wêreld kan stap nie. Jy het ’n groepie vriende nodig wat jou hand kan vashou. Vir seker was daar tye wat dit nie goed met Paulus gegaan het nie. Dalk het hy getwyfel of was hy net mismoedig oor die omstandighede waarin hy gesit het. Dalk het die geslanery van die soldate soms vir hom net te veel geraak. Hier in die swaar tye het sy vriende (seker Aristargos, want dié is saam met hom in die tronk) hom deurgedra. As dit nie vir sy ondersteuningsraamwerk was nie was die kans seker daar dat hy die handdoek sou ingooi.

Woorde wat Paulus gebruik om sy vriende te beskryf, is: hardwerkend vir die Here, staatmakers, praat ander moed in, betroubaar, lojaal, vasbyter, getuie vir God en selfs lewensredders, want honderde mense se lewens is gered waar hulle vir die eerste keer van God se verlossende boodskap gehoor het. Sjoe, dis voorwaar ’n hegte groep vriende met wonderlike gawes wat Paulus staande hou.

Dis altyd moeilik om net een uit te sonder, want dan is die kans goed dat die ander nie tot hulle reg kom nie, maar tog het Epafras ekstra vermelding nodig. Paulus is self aan die woord: 12En dan is daar natuurlik Epafras wat julle so goed ken. Hy het my gevra om julle spesiaal namens hom te groet. Hy gee al sy tyd en energie vir Christus Jesus. As ons maar hoor, bid hy baie ernstig vir julle, veral vir julle geestelike volwassenheid. Hy vra God om julle te help om nie ’n duim van die koers af te wyk nie. Hy bid dat julle lewe al hoe meer sal word soos God dit wil hê. 13Ek kan julle verseker, hy bid ernstig vir julle in Kolosse.

Sjoe, wat ’n voorbeeld van ’n man van God. Ek wil ook so wees. Ek wil ook die gebedsoldaat wees wat ’n passie het om die heeltyd vir ander te bid. Ek wil ook al my energie in Jesus se wêreld belê. Ek wil ook vir my vriende bid om op koers te bly, veral waar dit al hoe moeiliker raak om op die pad te bly.

Ek besef maar net al hoe meer dat ons nie alleen staande kan bly in hierdie wêreld nie. Op ons eie is ons te dun. Die ekonomiese landskap sal ons depressief maak, die politieke omstandighede en rigtinglose leiers sal ons teen die dak wil laat uitklim en keer op keer sal ons in die versoekings op die skerms of waar ook al val – as ons dit op ons eie probeer maak.

Ons almal het ’n ondersteuningsraamwerk nodig. En natuurlik moet ons weer deel wees van ander se ondersteuningsraamwerk. Ons moet mekaar ondersteun. Ons moet vir  mekaar bid. Ons moet ons energie in mekaar belê, want God het ons vir mekaar gegee.

Kom ons neem die voorbeeld van Paulus en sy tjommies. Kom ons belê in vriendskappe, want so kan ons mekaar help om regop deur die lewe te stap. So kan ons mekaar aanpor op die pad en help as ons dalk val nadat ons in ’n gat getrap het.

Teks

Kolossense 4:7-18

Om oor na te dink

Wie is deel van jou ondersteuningsraamwerk?

Van wie se ondersteuningsraamwerk is jy deel?

Sit jy genoeg energie in?

Gebed

Here, dis so eenvoudig, maar tog so belangrik dat ons deel moet wees van ondersteuningsraamwerke. Ek besef maar net al hoe meer dat ons nie op ons eie kan regkom nie. Help my om die regte vriende te kies sodat ons saam ’n krag in U wêreld kan wees. Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Johnny, die sak pakker

Johnny, die sak pakker by die kettingwinkel, het pas 'n kursus by die kerk bygewoon waarin hulle aangemoedig is om 'n verskil in die...